Polisie: Baba-moordverdagte minderjarig
2010-10-07 12:31
Kaapstad - Bewyse het onthul dat 'n ma van Khayelitsha, wat teregstaan vir die moord op haar babaseun, 17 en nie 18 jaar oud is, het die Wes-Kaapse polisie Donderdag gesê.
"Dit is vasgestel ná haar identiteitsdokument tydens 'n onderhoud versoek is," het kapt. Anneke van der Vyver gesê.
Daar is voorheen berig dat die beskuldigde 18 jaar oud is.
Die getuienis is Woensdagaand aan die Khayelitsha-landdroshof voorgelê toe die tiener in die hof verskyn het.
"Ingevolge die Wet op Kinderversorging moet sy na 'n plek van veiligheid oorgeplaas word vir verdere aanhouding omdat 'n minderjarige nie in polisieselle aangehou word nie," het Van der Vyver gesê.
Die beskuldigde, wat Dinsdagaand in hegtenis geneem is, sal na verwagting Donderdag om 10:00 in die hof verskyn.
Die jong ma het Maandag gesê haar sesweke oue baba Simamkele Baleni is by die Khayelitsha-daghospitaal gesteel.
Sy het aan die polisie gesê 'n vrou het aangebied om haar kind te hou terwyl sy toilet toe gaan en toe sy terugkeer het die vrou spoorloos verdwyn.
Die kind se lyk is 'n dag later onder sinkplate in die Green Point-informele nedersetting gevind.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA