Plett-ongeluk: Agt se lyke reeds uitgeken
2011-02-10 23:34
Johannesburg – Na bewering is die lyke van agt slagoffers reeds uitgeken ná die vliegongeluk wat Dinsdag naby Plettenbergbaai plaasgevind het.
“Agt van die slagoffers se lyke, wat deur polisieduikers uit die see gehaal is, is reeds uitgeken,” het Zolani Zenzile, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, gesê.
Die lyk van die uitvoerende hoof van die teëlmaatskappy Italtile, Gianpaolo Ravazzotti, is nog nie gevind nie.
Die firma het in 'n verklaring bevestig dat Ravazotti een van die nege slagoffers is.
Die ander werknemers wat gesterf het is: Gia Celori, Marilize Compion, Simon Hirschberg, Jody Jansen van Rensburg, Aletsia Krause, Bronwyn Parsons en Alison van Staden.
Die wrak van die ligte vliegtuig wat naby Plettenbergbaai vermis geraak het, is Woensdagoggend naby die Robberg-natuurreservaat gevind.
Verskeie vrae is Woensdag geopper terwyl ’n span van die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) reeds met ’n ondersoek na die oorsaak van die ongeluk begin het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA