Plase nié 'spesiale gebiede' – minister
2013-01-31 09:50
Johannesburg – Plase is nie spesiale gebiede in gemeenskappe nie en verdien nie meer polisiefokus as enige ander gebied in die land nie, het Nathi Mthethwa, minister van polisie, Donderdag gesê.
"Ek weier om toe te tree tot die idee dat plase spesiale gebiede in ons samelewing is," het hy op 'n ontbytvergadering in Johannesburg gesê.
"Nee, hulle is nie. Hulle vorm deel van die landelike beveiligingsplan."
Mthethwa het gesê die beveiligingsplan hanteer misdaad en geweld in al die landelike gebiede.
"Ons praat van die nedersettings en die algemene misdaad is in die landelike gebiede. Hier het ons ook plase."
Mthethwa het gesê sekere landbougroepe maak plaasmoorde 'n politieke kwessie.
Op 15 Januarie het die burgerregte-organisasie AfriForum gesê Mthethwa se swye oor plaasaanvalle grens aan sameswering.
"Die minister se stilte oor die toename van plaasaanvalle is 'n skande," het Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.
"Indien die minister ernstig is oor die beskerming van Suid-Afrikaners, sou hy plaasaanvalle jare gelede tot 'n prioriteitsmisdaad verklaar het."
Roets het reageer op berigte van 'n bejaarde paartjie wat op hul plaas naby Parys in die Vrystaat vermoor is.
Mthethwa het ook die behoefte van 'n groter oorsig vir die polisie bespreek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA