Plase dán baie veiliger
2011-07-16 07:35
Bethlehem – Genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het Vrydag hier die polisie se hersiene landelike veiligheidsplan bekend gestel en aan boere gesê die polisie gaan alles moontlik doen om oorgrensmisdaad uit Lesotho en veediefstal te bekamp.
Hy het bygevoeg die nuwe strategie, anders as die vorige plan, strek wyer as plaasgebiede en hy het klem gelê op goeie verhoudings tussen boere en plaaswerkers.
“Slegte verhoudings tussen boere en plaaswerkers maak vir ons werk.”
Cele het na die voorval net meer as ’n week gelede verwys waarin ’n boer van Groblershoop in die Noord-Kaap ’n vrou doodgeskiet het wat hout bymekaar gemaak het. Die boer het glo op rondloperhonde geskiet en nie die vrou gesien nie.
“Dit is ’n voorbeeld van swak verhoudinge. Waarom moet daardie mense in die eerste plek nog hout bymekaar maak en het hulle nie elektrisiteit nie? En hoe kan jy ’n mens vir ’n hond aansien? Daar is ’n groot verskil. Sulke gevalle benadeel plaasveiligheid.”
Goeie verhoudinge op plase hou vir almal voordeel in en bevorder veiligheid, het hy gesê.
Die vinnige optrede van die polisie op Richmond, KwaZulu-Natal, waar ses rowers op ’n plaas ingewag en doodgeskiet is, is ’n voorbeeld van sulke verhoudinge.
Hy het beklemtoon “die polisie skiet nie bloot om dood te skiet nie”, maar dat hulle wel “ernstig gaan optree met ernstige toerusting”.
“Misdadigers kom nie na ons toe met besemstokke en stoffers nie, hulle het ernstige goed by hulle. Ons moet met ernstige goed na hulle toe gaan en ons moet dit gebruik. Ek wil geen polisielid sien doodgaan met ’n vuurwapen in sy of haar hand nie.”
Cele sê hy is moeg om na begrafnisse te gaan van polisielede wat doodgeskiet is.
“Saterdag gaan ek weer na ’n polisievrou se begrafnis in Soweto. Sy is deur tien kitsbankrowers doodgeskiet.
“Ons nuwe strategie maak groot erns met veediefstal. Dit is ’n voorkeurmisdaad en ons gaan baie hulpbronne gebruik om dit te voorkom. Ons veediefstaleenhede sal beter opleiding ontvang en ook beter toerusting en voertuie kry. Ons gaan selfs helikopters inspan vir vinniger reaksie.”
Die polisie gaan ook alles in sy vermoë doen om misdadigers wat oor die Lesotho-grens kom, vas te vat.
Die voorsitter van Vrystaat-landbou (VL) se wet en ordekomitee en ondervoorsitter van Agri SA se landelike veiligheidskomitee, Kobus Breytenbach, het gesê Agri SA verwelkom die nuwe veiligheidsplan.
“Die regering mag nooit die platteland en sy mense afskeep nie, want dit is boere en plaaswerkers wat die land van kos voorsien en voedselsekerheid handhaaf.”
Op Abba Hugo, ondervoorsitter van die polisie in die Vrystaat se gemeenskapsforum, se kommentaar dat boere dikwels die polisie se hulp wegwys, sê Breytenbach: “Onbevoegde polisielede het boere se vertroue geskaad. Sommige polisielede kan soms nie eens ’n verklaring afneem nie. Ons doen ’n beroep op die polisie om altyd uiters professioneel op te tree. Dit sal die vertrouensverhouding tussen boere en die polisie verbeter.”
Daar is egter ook goeie verhoudings tussen polisiebeamptes en boere, sê Breytenbach.
Gesamentlike optredes soos blou- en witlig-patrollies het misdaad in landelike gebiede laat afneem.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad