Plan met tale nie haalbaar
2011-04-07 09:08
Kaapstad - Dit gons landwyd oor die voorstel dat minstens een Afrika-taal verpligtend moet wees vir universiteitstudente.
Die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, het Dinsdag dié plan op die bekendstelling van die departement van basiese onderrig se ontwikkelingsplan vir onderwysers aangekondig.
Hy het glo ’n taakspan op die been gebring om die bevordering van Afrika-tale te ondersoek en het sy plan vir universiteitstudente as “baie, baie belangrik” bestempel.
Onderwyskenners en taalaktiviste is dit eens dat meertaligheid ’n prysenswaardige doelwit mag wees, maar of dié beleid enigsins prakties uitvoerbaar kan wees, is ’n ope vraag.
Dr. Neville Alexander, direkteur van die Projek vir die Studie van Alternatiewe Onderwys in Suid-Afrika (Praesa) aan die Universiteit van Kaapstad (UK), het gesê die idee om ’n taal as vak verpligtend te maak, is waarskynlik “’n bietjie onrealisties”.
“Die voorstel is nou op die tafel. Dit is broodnodig dat Afrika-tale meer onder Afrikaans- en Engelssprekendes posvat, maar op kort termyn kan ons die uitvoerbaardheid van so ’n plan bevraagteken. Het ons die nodige mense om die tale so te doseer, op ’n aantreklike manier? As dit net verplig word, soos Afrikaans in die apartheidsjare verpligtend was, gaan dit waarskynlik boemerang.”
Prof. Christo Viljoen, voormalige dekaan van die fakulteit ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch (US), het kommer uitgespreek oor die moontlikheid dat belangrike kursusmateriaal in die slag sal bly.
“Dit sal beteken dat ons plek moet inruim in ’n reeds besige akademiese program. Wat gee jy byvoorbeeld prys in ’n ingenieursgraad? En is dit dan werklik ’n reëling waarby die student sal baat vind? Dit is ook ’n bietjie laat in ’n mens se ontwikkeling om nou ’n nuwe taal aan te leer. Hoekom kan dit nie op hoërskoolvlak toegepas word nie? Daar is meer tyd. Dit is soos om ’n pleister te plak op ’n probleem wat vroeër ontstaan het. Daar word al hoe meer van universiteite verwag om die tekortkominge van die sekondêre onderwysstelsel te hanteer.”
Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, wou nie regstreeks op Nzimande se voorstel kommentaar lewer nie.
Die universiteit bied reeds aan studente wat belang stel die geleentheid om ander tale aan te leer.
Dié klasse is aanvanklik ingestel as deel van ’n plan om versoeningsprosesse op die kampus aan te help.
“Dit is vir ons belangrik om daardie opsie aan studente beskikbaar te stel, maar ons wil dit nie afdwing nie. Dit hoef ook nie ’n rasseding te wees nie. Op sommige van ons kampusse is daar byvoorbeeld Sotho-sprekende studente wat Zoeloe wil leer. In ’n professionele opset is meertaligheid ’n bate en so ’n stelsel sal veral help om streekstale te bevorder. Dit sal egter beter wees om studente te kry om vrywillig deel te neem, eerder as om dit af te dwing.”
- Volksblad