Plakkers eet dierkarkasse
2009-12-03 07:17
Daniëlla du Plooy
Johannesburg - Weens ’n “gebrek aan geld en hulpbronne” het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Randfontein “geen keuse” gehad nie as om die karkasse van diere net so by ’n stortingsterrein af te laai.
’n Emosionele Bernice Dyer, woordvoerder van die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV), het Woensdag gesê ’n storm het om die DBV se kop losgebars nadat dit geblyk het diere word nie begrawe nie, maar net so by die stortingsterrein gelos.
“Hierdie is nie ’n nuwe probleem nie,” het sy aan Beeld gesê.
“Ons probeer diere altyd met respek behandel, selfs al lewe hulle nie meer nie. Die feit is egter dat ons hier geen keuse gehad het nie.”
The Star het Woensdag berig honderde karkasse en ander diere-afval word by dié stortingsterrein gelaat.
Honger plakkers eet glo selfs daarvan.
Volgens Dyer het slegs ’n handvol van die DBV se 88 verenigings ’n verasser tot hul beskikking om van karkasse ontslae te raak.
“In alle ander gevalle moet ons met stadsrade saamwerk om ’n oplossing te probeer vind.
“By Randfontein was die ooreenkoms met die raad dat hulle gate in die stortingsterrein sal grawe waarin die karkasse gegooi en bedek kan word.
“Maar soos dikwels die geval met burokrasie is, word dít nie altyd gedoen nie.”
Dyer het gesê hulle het “doodeenvoudig nie die geld, mannekrag of tyd” om self die gate te grawe nie.
“Ons het soveel lewende diere by die hokke wat hulp nodig het. Dit is ’n reuse-probleem en situasie wat ons betreur, maar in so ’n geval is daar niks wat ons kan doen nie.
“Wanneer ons die dooie diere na die stortingsterrein vervoer, maak ons altyd seker hulle is bedek en doen moeite om seker te maak niemand sien hul karkasse nie.”
By Beeld se besoek aan die terrein gister was daar niemand wat monitor wie die gebied binnekom nie.
Daar is ook ’n plakkerskamp direk langs die stortingsterrein.
Kinders speel tussen die gemors en naby die karkasse en mense krap tussen die rommel rond.
Volgens Dyer is ’n groot probleem by die Randfontein-terrein dat dieselfde gebied vir karkasse aan sowel die DBV as “talle” abattoirs toegeken is.
“Dit is dus nie alles ons diere wat daar lê nie. Ons probeer sover ons kan dié diere begrawe, maar dit bly ’n stryd met die raad om hul kant van die ooreenkoms na te kom.”
Op die stortingsterrein is daar ook, buiten die karkasse, bloed en mediese afval, onder meer mediese spuite en halfleë medisynebottels.
Dyer het ontken dié afval is die DBV s’n.
’n Woordvoerder van die Randfontein-munisipaliteit het aan The Star gesê hulle is besig om ’n muur om die stortingsterrein te bou en erken hulle weet gewoonlik nie watter soort diere-afval daar gestort word nie.
Volgens hulle moet die DBV die raad se rommelbestuur-eenheid nader om die karkasse te begrawe.
Dyer het ’n beroep op die publiek gedoen om die DBV “asseblief steeds geldelik te ondersteun”.
“Ons doen ons bes met die min geld wat ons het en dit moet eerstens aan kos vir ons diere gaan. Verassers is egter duidelik ook dringend nodig.”
- Beeld