Plakkers begin van voor af ná brand
2010-09-27 07:39
Johannesburg - Inwoners van die sowat 238 plakkershutte in Denver, Johannesburg, wat Vrydagnag in ’n brand verwoes is, het gister begin om hul wonings te herbou.
Vier mense is dood en 513 dakloos gelaat in die brand wat net voor middernag uitgebreek het, het Percy Morokane, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, gesê.
“Die polisie werk daaraan om die slagoffers te identifiseer.”
Volgens Morokane het die vier oorledenes nie in dieselfde hut gewoon nie.
Die polisie probeer die oorsaak van die brand bepaal.
Daar is bewerings dat ’n bakleiery tussen twee mans daartoe gelei het, het Morokane gesê.
Kwenzokwakhe Ngema (45) is een van die inwoners wat sy hut reeds begin herbou het.
“Ek het gistermiddag (Saterdag) begin om die hut reg te maak en sal seker môre (vandag) klaar wees.”
Die geskree van mense het Ngema, wat alleen woon, Vrydagnag wakker gemaak.
Hy kon net sy identiteitsdokument, ’n matras, kombers en die klere aan sy lyf red. Verder is alles, ook die sowat R200 wat hy gehad het, in die brand vernietig.
Een van die inwoners wat nog nie haar hut kon herbou nie, is Tryphina Phoka (56).
Sy het vertel toe die brand ’n ent van hul hut uitbreek en mense begin skree, het sy haar man, Ben (67), probeer wakker maak.
Hy was blykbaar so moeg dat hy nie wou opstaan nie.
Teen die tyd dat hy die erns van die saak besef het, kon hulle net drie komberse en ’n hoop klere uit die huis kry voordat dit ook in vlamme opgegaan het.
As hulle boumateriaal soos hout en sinkplate kan kry, sal hulle hul hut op dieselfde plek herbou.
Die stad se rampbestuursorganisasie het skuiling aangebied, maar die meeste mense het dit van die hand gewys en verkies om by vriende en familie te bly, volgens Morokane.
Hy het gesê ’n sentrum wat 24 per dag oop is, is opgerig om die situasie by die informele nedersetting te monitor.
Drie kettingwinkels het reeds kos aangebied en beloof om boumateriaal te verskaf.
Die rampbestuursorganisasie en nie-regeringsorganisasies het komberse geskenk.
Volgens Morokane is nog skenkings, veral kos, klere, skoolklere en boeke nodig om die slagoffers van die brand te help.
Hy het mense wat wil help, gevra om hom by 011 375 5920 te bel.
- Beeld