Plaaswerkers weer op die oorlogspad
2012-12-04 10:24
Kaapstad – Plaaswerkers het Dinsdagoggend regoor die Boland in die Wes-Kaap vergader om hul staking oor arbeidskwessies te hervat.
Mario Wanza van die Koalisie vir Plaaswerkers het gesê werkers het reeds in Ceres, Citrusdal en Zolani in Ashton bymekaargekom.
Werkers en inwoners sal na verwagting om 10:00 op 'n oop sportveld in De Doorns byeenkom.
"Daar was geen voorvalle van geweld waarvan ek weet nie," het Wanza gesê.
In Worcester het 'n groep mense vroegoggend gedans, gesing en motorbande gebrand.
Kapt. Mzikayise Moloi, polisiewoordvoerder, het gesê die brand is geblus en die situasie is onder beheer.
Plaaswerkers eis 'n daaglikse loon van R150 en beter leeftoestande.
Werkers in De Doorns het verlede maand begin staak en die staking het na 15 dorpe uitgekring. Twee mense het gesterf en eiendom is verwoes.
Plaaswerkers het die staking afgelas en die Kommissie vir Diensstandaarde kans gegee om na die sektorale bepaling vir landbou te kyk.
Die plaaswerkers het aangekondig dat die staking Dinsdag hervat sal word nadat Mildred Oliphant, minister van arbeid, gesê het dit sal onmoontlik wees om die werkers se sperdatum van 4 Desember te haal.
Oliphant het gesê die sektorale bepaling is in Maart vanjaar in plek gestel en kan wettiglik eers weer oor 12 maande hersien word.
Die departement sal voortgaan met openbare verhore wat daarop gemik is op 'n nuwe sektorale bepaling vas te stel.
Oliphant het Maandag gevra vir vreedsame optogte en het gesê daar is nie plek vir geweld in 'n demokratiese samelewing nie.
Sy het gesê werkers moet aanhou praat met werknemers om 'n oplossing vir hul griewe te probeer vind.
Die 24-uur-blitslyn 0860 142 142 kan gekontak word om uit te vind watter gebiede en paaie deur die betogings geraak is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA