Plaaswerkers se lone bekyk
2012-11-13 11:27
Kaapstad – Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, sal die departement van arbeid vra om die minimumloon vir plaaswerkers te hersien, berig die Cape Times.
Palesa Mokomele, Joemat-Pettersson se woordvoerder, het aan die koerant gesê die minister sal Mildred Oliphant, minister van arbeid, nader om 'n kommissie aan te stel oor die basiese voorwaardes van indiensneming vir plaaswerkers en sektorale bepalings.
Plaaswerkers in die Hexriviervallei in die Wes-Kaap betoog al meer as 'n week lank oor hul lone en eis R150 per dag. Die meeste van dié plaaswerkers verdien tussen R69 en R75 per dag en die hoogste aanbod van boere is R80.
'n Vergadering wat die minister van landbou, beamptes van die departement van arbeid en nasionale landbou-unies Maandag in Pretoria bygewoon het, het op 'n dooie punt uitgeloop.
Die samesprekings sal Dinsdag hervat word.
Volgens die Business Report het 'n derde van die werkers reeds teruggekeer werk toe.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA