Plaaswerkers ruk op na Agri SA in Paarl
2012-12-04 14:02
Kaapstad – Honderde plaaswerkers in die Wes-Kaap het Dinsdag in die Paarl betoog om 'n versoekskrif vir verbeterde werkstoestande te oorhandig, het Women on Farms gesê.
Carmen Louw, woordvoerder, het gesê die werkers het omstreeks 11:00 hul optog na die Agri Wes-Kaap-gebou in Markstraat begin.
"Die optog verloop goed. Ons het 'n versoekskrif oorhandig en ons optog beweeg nou na die departement van arbeid in die Paarl."
Die groep eis 'n daaglikse loon van R150.
Porchia Adams, woordvoerder van Agri Wes-Kaap, het gesê sowat 300 mense het Dinsdagoggend buite hul kantore vergader.
Hulle het 'n versoekskrif aan Carl Opperman, hoof- uitvoerende beampte oorhandig, voordat hulle vreedsaam uitmekaar is.
Sy het gesê geen voorvalle van erge geweld, wat verband hou met die plaaswerkerstaking, is aangemeld nie.
"Die enigste voorval waarvan ons tot dusver gehoor het, was in Groendal, Franschhoek, waar 'n groep mense 'n vragmotor met klippe bestook het."
Sy kon nie berigte bevestig dat twee mense met rubberkoeëls geskiet is nie.
In Worcester het 'n groep mense vroegoggend gedans, gesing en motorbande gebrand.
Kapt. Mzikayise Moloi, polisiewoordvoerder, het gesê die brand is geblus en die situasie is onder beheer.
Werkers in De Doorns het verlede maand begin staak en die staking het na 15 dorpe uitgekring. Twee mense het gesterf en eiendom is verwoes.
Plaaswerkers het die staking afgelas en die Kommissie vir Diensstandaarde kans gegee om na die sektorale bepaling vir landbou te kyk.
Die plaaswerkers het aangekondig dat die staking Dinsdag hervat sal word nadat Mildred Oliphant, minister van arbeid, gesê het dit sal onmoontlik wees om die werkers se sperdatum van 4 Desember te haal.
Oliphant het gesê die sektorale bepaling is in Maart vanjaar in plek gestel en kan wettiglik eers weer oor 12 maande hersien word.
Die departement sal voortgaan met openbare verhore wat daarop gemik is op 'n nuwe sektorale bepaling vas te stel.
Oliphant het Maandag gevra vir vreedsame optogte en het gesê daar is nie plek vir geweld in 'n demokratiese samelewing nie.
Sy het gesê werkers moet aanhou praat met werknemers om 'n oplossing vir hul griewe te probeer vind.
Die 24-uur-blitslyn 0860 142 142 kan gekontak word om uit te vind watter gebiede en paaie deur die betogings geraak is.
– Volg Nuus24 op
Twitter
- SAPA