Plaaswerkers aangeval in Vrystaat
2011-10-14 08:08
Ficksburg – Slegs twee dae nadat ’n plaasvoorman en sy vrou by Fouriesburg aangeval en gewond is, is ’n egpaar wat hier op ’n plaas werk deur gewapende aanvallers oorval.
Net soos Samuel Chaba en sy vrou Maria Maandag die aanvallers op ’n plaas by Fouriesburg gefnuik het, het die jong Ntima Disebo en sy vrou, Lehlohonolo Thuntsa, Donderdag twee gewapende aanvallers op die plaas Dwarskloof hier ore aangesit.
Disebo (24), ’n tuinwerker, en Thuntsa (25), ’n huishulp, is Donderdagoggend deur twee gewapende rowers op die plaas oorval.
Hendrik van Jaarsveld sê hy en sy vrou was nie tuis nie. Die rowers het die agterdeur oopgebreek.
Disebo en Thuntsa is met pistole gedreig om die aanvallers na die kluis te vat.
Die paartjie het egter kopgehou en op die regte oomblik van die aanvallers ontvlug.
Hulle het by bure hulp ontbied.
“Hulle het baie goed gedoen. Daar is niks gesteel nie,” sê van Jaarsveld.
Die polisie is ontbied.
Een van die aanvallers is later deur lede van die plaaswag vasgetrek.
Hy sal vandag hier in die landdroshof verskyn.
In Maandag se middernagtelike aanval op Fouriesburg is mnr. Chaba (39), voorman op die plaas Grootverwulf van Marianne Conlyn, ’n bekende in Suid-Afrikaanse perdekringe, deur vier aanvallers in die hand geskiet. Sy vrou is in die kuit geskiet.
Mnr. Chaba is geskiet nadat hy geweier het om die sleutels van die hoofhuis, waar Conlyn geslaap het, aan die aanvallers te gee.
Die gewonde mnr. Chaba is vasgebind en deur die aanvallers na die hek van die hoofhuis gebring en gedwing om dit oop te maak. Hier het hy van die aanvallers ontvlug, weggekruip en vir Conlyn gebel.
Toe sy ligte in die hoofhuis aanskakel en haar honde begin blaf, het die aanvallers gevlug.
Dié aanvallers het vermoedelik oor die grens na Lesotho gevlug.
Enigiemand met inligting oor die aanval Donderdag by Ficksburg word gevra om die Ficksburg-speurtak by 079-897-7144 te bel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad