Plaaswerker sterf ná veldbrande
2011-11-09 21:59
Johannesburg – ‘n Plaaswerker is dood nadat hy veldbrande by Colesberg in die Noord-Kaap bestry het, het die polisie Woensdag gesê.
Volgens kapt. Tony Modise is twee ander werkers vir rookinaseming en brandwonde behandel by die hospitaal op Colesberg.
Vee is in die brande verloor, maar die omvang van die skade was nog nie teen Woensdag bekend nie.
Die brand het blykbaar omstreeks 11:00 Dinsdag op ‘n plaas naby Norvalspont ontstaan en na omliggende plase versprei.
Volgens Modise het die polisie, rampbestuurpersoneel, boere en plaaswerkers Dinsdag die brande bestry.
Die drie plaaswerkers het brandwonde opgedoen en is na die hospitaal geneem.
Volgens Modise is die 23-jarige plaaswerker laat Dinsdag oorlede.
‘n Ander werker is ontslaan, terwyl die derde werker nog behandel word.
Volgens die polisie was die brand teen Woensdagoggend onder beheer, maar het dit weer in die middag opgevlam.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA