Plaaswerker geskiet oor 'harde musiek'
2010-10-05 16:20
Johannesburg - ‘n Man het Dinsdag in die landdroshof op Groblersdal verskyn nadat hy na bewering ‘n plaaswerker doodgemaak het omdat dié harde musiek gespeel het, het die polisie in Limpopo gesê.
“Dit word beweer dat die verdagte, wat die toesighouer oor die plaaswerkers is, die werker Sondagaand met ‘n ongelisensieërde vuurwapen doodgeskiet het,” het lt. kol. Mohale Ramatseba in ‘n verklaring gesê.
Bertus Honeyball (30), van Tirrit Boerdery, sal weer op 8 November in die hof verskyn nadat die saak Dinsdag uitgestel is vir verdere ondersoek.
Honeyball het na bewering die Zimbabwiër Edward Vindi (31) by Vaalfontein-plaas in die kop geskiet, blykbaar omdat hy harde musiek gespeel het.
Die slagoffer en sy kollegas het musiek geluister toe Honeyball hulle na bewering gewaarsku het dat hulle die musiek te hard speel, het Ramatseba gesê.
“Die verdagte het blykbaar met ‘n jaggeweer teruggekom en die slagoffer in die kop geskiet. Die slagoffer het onmiddellik gesterf.”
Honeyball word aangekla van moord en die besit van ‘n ongelisensieërde vuurwapen.
Borgtog van R3 000 is Dinsdag aan hom toegestaan.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA