Plaaswag-vrou patrolleer snags
2011-02-27 11:45
Johannesburg - Sy weier om in vrees te leef.
Daarom is Hanna van der Walt, voorsitter van die Vlaklaagte-plaaswag in Noordwes snags saam met die manne in ’n bakkie op patrollie eerder as om agter geslote deure in haar opstal te skuil.
“Ek kán boer! Dis wat ek wil doen. Niemand gaan my so maklik bang maak nie.”
Sy was self al op die tonele van plaasaanvalle waar vriende beseer of vermoor is. Daarom sit sy haar vertroue en energie in die plaaswagstelsel.
Rapport het haar vergesel op ’n patrollie in die Vlaklaagte-gebied wat bestaan het uit Van der Walt en nog nege gewapende manne in ’n konvooi bakkies.
As voorsitter van die plaaswag beplan en koördineer sy die voertuig-patrollies.
Sy sit kiertsregop in die voorste bakkie in die konvooi en beheer die radio-verkeer.
By ’n sjebien laat sy die konvooi stilhou. Sy gesels met die plaaswerkers om te hoor of hulle enigiets verdag in die omgewing opgemerk het.
Dan laat sy almal weer in die bakkies klim en hulle ry verder.
Flits in die hand is sy telkens eerste uit die bakkie om vreemde voertuie van nader te bekyk en die insittendes te ondervra.
By ’n afgeleë plaashuis maak sy seker die bejaarde egpaar wat daar woon, is nog veilig.
“Hulle is so uitgelewer. Ons moet na mekaar omsien.”
Die plaaswag is daagliks in radiokontak met elke boer in die omgewing. Die konvooi bakkies met hul groen dakligte dien as ’n sigbare afskrikmiddel vir boewe en as ’n reaksiemag, sou daar ’n voorval wees.
“Die aanvalle het so wreed geword dat jy nie ’n keuse het as om ’n mate van jou eie vryheid en die vryheid van jou kinders prys te gee nie,” sê Van der Walt.
Die lewe op die platteland is lankal nie meer idillies nie. Boere dok baie geld op vir veiligheid.
Maar boer sal sy boer.
- Rapport