Plaasvrou koelbloedig vermoor
2010-03-15 15:34
Durban – Die polisie in KwaZulu-Natal het ’n soektog vir vier mans van stapel gestuur nadat die vrou van ’n boer Sondagaand in Colenso doodgeskiet is, het die polisie gesê.
Die boer (70) is twee keer geskiet, maar hy het die voorval oorleef en sterk tans in die hospitaal aan, het supt. Jay Naicker gesê.
“Die boer was besig om die koeie saam met sy werkers te melk toe hulle deur vier gewapende mans genader is. Die mans het geld geëis en sy vrou (64) is doodgeskiet,” het hy gesê.
Naicker het gesê die aanvallers het niks gesteel nie.
Die georganiseerde misdaadeenheid is tans besig om die voorval te ondersoek.
Die Demokratiese Alliansie (DA) beskryf die voorval as 'n voorbeeld van intimidasie.
"Die sinnelose moord op ‘n bejaarde vrou en die aanval op haar man is net nog ‘n tragedie vir ons land,” het Tom Stokes, ’n lid van die DA in KwaZulu-Natal gesê.
Hy het gesê die plaasmoorde is deur die sing van die struggle-liedjies aangehits wat die doodmaak van boere aanmoedig.
Helen Zille, DA-leier, het gesê pres. Jacob Zuma se weiering om homself van die liedjie “Kill the Boers, they are rapists” te distansieer, suggereer dat hy sy “goedkeuring gee om mede-Suid-Afrikaners dood te maak”, het Sapa vroeër berig.
- Sapa