Plaasmoordslagoffers se families hou optog
2012-11-30 14:15
Kaapstad – AfriForum sê hy gaan die naweek saam met verskeie bekendes en tien families wat geliefdes aan plaasmoorde afgestaan het, aan ‘n optog deelneem.
Die burgerregte-organisasie het in ‘n verklaring gesê die betogers gaan Saterdag vanaf Kerkplein na Nathi Mthethwa, minister van polisie, se kantoor stap om ‘n memorandum voor te lees.
Luidens die verklaring word die prioritisering van plaasmoorde in die memorandum geëis.
Die kunstenaars sluit Steve Hofmeyr, Chris Chameleon en Adam Tas in.
AfriForum sê die familie van Attie, Wilna en klein Willemien Potgieter, wat op 1 Desember 2010 op hul plaas naby Lindley vermoor is, gaan ook aan die optog deelneem.
Slagoffers wat plaasaanvalle oorleef het, sal ook aan die staptog deelneem.
Dit volg nadat Pretoria se hooggeregshof beslis het die betoging mag voortgaan.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het in die verklaring gesê “plaasmoorde in nie net ‘n krisis nie; dit is ‘n katastrofe.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24