'Plaasmoorde nie meer 'n prioriteit'
2012-01-31 17:26
Johannesburg – Ses boere is tydens Januarie 2012 in verskillende dele van die land vermoor, het die landbou-organisasie TLU SA Dinsdag gesê.
“Plaasmoorde in Suid-Afrika lyk of dit besig is om toe te neem hierdie jaar in vergelyking met verlede jaar, toe slegs een boer tydens dieselfde tydperk vermoor is,” het die algemene bestuurder, Bennie van Zyl, in ‘n verklaring gesê.
“Dit is onaanvaarbaar... Ons het die regering jare lank probeer oortuig om op te tree, maar niks is gedoen nie.”
Die vakbond het die afgelope week ‘n veldtog geloods om die regering te oortuig om bewustheid oor plaasmoorde in die land te kweek. Van Zyl het bygevoeg dat die veldtog na Europese lande versprei is.
Hy het die regering daarvan beskuldig dat hy ‘n dowe oor draai op die vakbond se versoek om plaasmoorde te beveg.
Van Zyl het gesê TLU SA het nie meer enige manier waarop hulle boere kan beskerm nie. Hy het boere as die land se kosprodusente beskryf.
“Die enigste reaksie wat ons van die regering ontvang het toe ons die kwessie van plaasmoorde opgebring het, was dat plaasmoorde nie meer ‘n prioriteit was nie, maar ‘n kommer.
“Daar is slegs 35 000 kommersiële boere oor in hierdie land, maar die bydraes wat hulle tot die ekonomie maak is geweldig groot.”
Volgens Van Zyl het die vakbond se woordvoerder, Henk van de Graaf, die afgelope week na ‘n paar Europese lande gevlieg om die volle omvang van plaasaanvalle aan politieke partye, kulturele organisasies, regerings en ander voor te lê.
Hy het gesê dat as die Suid-Afrikaanse regering nie reageer op sy beroep om teen plaasaanvalle op te tree nie, sal die organisasie Europese regerings oortuig om betrokke te raak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA