Plaasmoorde 'is nie anders nie'
2011-09-09 07:05
Pretoria – Moord is moord en plaasmoorde verskil nie van enige ander moorde nie, het Nathi Mthethwa, minister van polisie, gesê.
Mthethwa het dié antwoord Donderdagoggend op die mediakonferendie in Pretoria oor misdaadstatistieke gegee toe hy gevra is of statistieke gehou moet word van plaasmoorde.
Die georganiseerde landbou vra al geruime tyd dat plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad beskou word.
Volgens nie-amptelike statistieke van TLU SA en Solidariteit was daar die afgelope 20 jaar meer as 2 600 plaasaanvalle, maar dis onbekend hoeveel mense daarin gesterf het.
Henk van Graaf, assistent-hoofbestuurder van TLU SA, het gesê die polisie kan polisiemoorde afsonderlik uitlig, wat beteken hulle kan plaasmoorde ook afsonderlik aandui.
Volgens hom dui syfers daarop dat die moordsyfer onder plaasbewoners ongeveer 86 per 100 000 is, wat skrikwekkend hoog is.
Mthethwa het gesê boere, plaaswerkers en ander mense op die platteland word deur misdadigers as sagte teikens beskou, onder meer omdat plase dikwels afgeleë en dit dikwels vir die polisie moeilik is om weens slegte paaie daar te kom. Plattelandse polisiekantore is dikwels afgesonderd en die lede dien ’n groot gebied.
Die minister en genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het dit benadruk dat hoewel veediefstal die afgelope jaar met 8,2% afgeneem het, hulle nie tevrede is met die situasie nie.
Nie net is die getal nog te hoog nie, daar moet ook seker gemaak word die veediefstalsyfer het nie afgeneem omdat boere dit uit radeloosheid nie eens meer aanmeld nie, het Mthethwa gesê.
Cele het gesê die polisie het die veediefstaleenhede die afgelope jaar verbeter en maak seker dat hulle ontplooi word in dié gebiede waar hulle die nodigste is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld