Plaasmoorde eis vier
2009-12-07 07:46
Malani Venter
Stellenbosch - In ’n “swart naweek” vir die landboubedryf is ’n boer en drie werkers in twee afsonderlike voorvalle op Kaapse plase vermoor.
’n Vrugteboer van Ceres en drie plaaswerkers van Beaufort-Wes is onderskeidelik Vrydagnag en Saterdagmiddag doodgeskiet.
Lena Nuwegeld (85) en Hendrik September (64) en Mannetjie John (38) is Saterdag op die plaas Nooitgedacht, sowat 25 km van Beaufort-Wes, met ’n jaggeweer doodgeskiet, het kapt. Bernadine Steyn, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.
Dié plaas behoort aan Gert van der Merwe.
Ná wat gelyk het soos ’n rusie tussen twee van die plaaswerkers en ’n opsigter van dié plaas, het die opsigter glo al drie werkers met ’n jaggeweer doodgeskiet, het Steyn gesê.
Nuwegeld en September is albei in die kop geskiet, terwyl John in sy kop, bors en been geskiet is.
Al drie slagoffers is op die toneel dood. ’n Man (37), wat kort ná die voorval in hegtenis geneem is, sal na verwagting vandag in die landdroshof in Beaufort-Wes op drie aanklagte van moord verskyn.
In ’n tweede voorval is Pieter Malan Cillie (57), ’n appel- en peerboer van die plaas Lorraine buite Ceres, drie keer in sy huis geskiet.
Volgens supt. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het ’n onbekende aantal mans omstreeks 23:45 die kombuisdeur oopgeskop en die plaashuis binnegedring.
Cillie het glo wakker geword van die geraas en gaan ondersoek instel, waarna die mans hom oorval het, het Traut gesê. Cillie se twee kinders en twee vriende van die kinders was ook ten tyde van die voorval in die huis.
Hy is in die kop en maag gewond en is op die toneel dood.
Die twee vriende het hul ouers gebel, waarna die polisie na die toneel ontbied is. Die kinders is ongedeerd gelaat en dit blyk niks is uit die huis gesteel nie, het Traut bygevoeg.
Die verdagtes is steeds op vrye voete. ’n Saak van moord word ondersoek.
In ’n verklaring het Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou, sy skok en hartseer oor albei voorvalle uitgespreek. “Plase en landelike gebiede moet veilig wees vir boere en plaaswerkers. Die afgelope naweek het gewys dat dit nie die geval is nie,” het hy gesê.
Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het dit as ’n “swart naweek” beskryf: “Die reg moet nou sy gang gaan. Die proses moet nie uitgerek word nie en dit moet vinnig afgehandel word sodat ons die stukke kan begin optel.”
Adv. Lennit Max, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, het gesê die verdagtes sal met die volle mag van die gereg te doen kry. Hy het sy skok oor die voorvalle uitgespreek en meegevoel met die naasbestaandes betuig.
- Die Burger