Plaasmoorde: LUR spreek hom sterk uit
2011-08-05 09:10
Bloemfontein - Wanneer ’n boer vermoor word, steier ’n provinsie ’n hele paar treë agteruit. Só ’n moord knou verhoudinge. Só ’n moord vernietig vaardighede.
Só het Mosebenzi Zwane, Vrystaatse LUR vir landbou, Donderdag op Vrystaat Landbou (VL) se jaarkongres in Bloemfontein gesê.
Zwane het Woensdag die familie besoek van die jongste plaasmoord-slagoffer, Thinus Uitenweerde (55), wat Sondag op sy familieplaas in die Reitz-distrik vermoor is.
“Dit breek my hart. Ek het met die familie gepraat. Hulle het my vertel wat alles gebeur het. Terwyl ek met hulle gepraat het, het ek gedink ons sal ’n daadwerklike plan moet maak. Die regering sal die voorbeeld moet stel.”
Zwane het die twee vermeende moordenaars van onderskeidelik 16 en 17 ook besoek.
“Ek het met hulle gepraat en hulle is jammer. Dis twee kinders. Ek het met die ouers ook gepraat. ’n Mens verstaan nie al hierdie dinge nie.”
Hy het ook ’n beroep op die hof gedoen om dié verhoor die hoeveelheid aandag te gee wat dit verdien.
“Mense moet eens en vir altyd weet dat hulle vir hul geld moet werk. Daar is nie iets soos kitsrykdom nie. Ons inwoners moet leer om volgens hul inkomste te lewe.”
Zwane sê die verhoor oor die Lindley-plaasmoord het te lank gesloer. (Die plaasmoord het 1 Desember 2010 plaasgevind en die moordenaars en aanvallers is verlede week in die Vrystaatse hooggeregshof gevonnis.)
Hieraan moet aandag gegee word.
Hy het boere die versekering gegee dat hulle op die regering se samewerking kan staatmaak.
“Ek erken dat die departement se beplanning ernstige roetine kortkom. Die manier waarop ons nou aangaan, help nie. Die 118 projekte waarmee ons besig is, help nie.”
Hy wil sien hoe die Vrystaat weer die broodmandjie van die land word.
“Ek is hier om aan verhoudinge met ons vennote in die landboubedryf te werk.”
Butana Komphela, Vrystaatse LUR vir politiek, paaie en vervoer het VL ook toegespreek.
Dan Kriek, vise-president van VL, sê dit is uiters bemoedigend dat die twee LUR’e die moeite gedoen het om die jaarkongres by te woon.
“Ons kan sien hier is ’n nuwe positiewe gesindheid. Ons het gehoop ons sal kan uitreik en dit lyk of dit gaan gebeur.”
Kriek sê die gesindhede van dié politici is eg en VL hoop hulle hou daad by woord om ’n gunstige verhouding met VL op te bou.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad