Plaasmoorde: AfriForum reik uit na wêreld
2012-10-03 16:46
Kaapstad – AfriForum gaan die week ‘n memorandum oor plaasmoorde aan 110 ambassades en internasionale instellings oorhandig.
Die burgerregte-organisasie het in ‘n verklaring gesê die memorandum gaan ‘n beroep op die internasionale gemeenskap doen om druk op die ANC te plaas om plaasmoorde aan te spreek.
Luidens die verklaring gaan elke memorandum ook ‘n afdruk van die boek Land of Sorrow (Engelse weergawe van Treurgrond) asook die dokumentêre film oor plaasmoorde War of the Flea bevat.
‘n Afskrif van die memorandum, sowel as die boek en DVD, sal Donderdag om 14:00 aan ‘n verteenwoordiger van pres. Jacob Zuma by die Uniegebou oorhandig word.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat hierdie aksie deel van AfriForum se veldtog Stop die Moorde is.
“Ons uiteindelike doel is om die regering te oortuig om plaasmoorde tot ‘n prioriteitsmisdaad te verklaar en om spesialiseenhede vir landelike veiligheid daar te stel. Met hierdie aksie wil ons die internasionale gemeenskap in kennis stel van ‘n katastrofe wat deur ons eie regering uit die gesig uit geboender word."
AfriForum se navorsingspan het die lys van lande en internasionale organisasies opgestel.
“Daar is spesifiek gefokus op lande en instellings wat nog nie van die probleem bewus is nie en wat moontlik diplomatieke druk op die Suid-Afrikaanse regering kan toepas. 'n Aantal internasionale media-maatskappye is ook geïdentifiseer,” het Roets in die verklaring gesê.
Die lys sluit organisasies en groepe soos die BBC, CNN, Genocide Watch, Human Rights Watch en Minority Rights Group International in.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24