Plaasmoord was 'naakte rassisme'
2011-05-01 16:52
Johannesburg - Die moord op ‘n boer, wat aan sy bakkie vasgebind en sowat ‘n kilometer ver gesleep is, was “niks meer as rassisme nie”, het die VF+ gesê.
Mnr. Pieter Groenewald, VF+-leier in Noordwes, het die boer identifiseer as mnr. André Van der Merwe. Die 49-jarige Van der Merwe het buite Ottosdal in dié provinsie geboer.
“Die moord op mnr. André van der Merwe, ‘n boer naby Ottosdal, nadat sy aanvallers hom agter sy eie bakkie aangesleep het, is niks meer as rassisme nie,” het Groenewald gesê.
“Dis duidelik dat politieke motiewe en naakte rassisme al hoe meer na vore tree wat uit die wreedheid van plaasaanvalle gesien kan word. Die regering en die Minister van Polisie is laks om op te tree teen plaasaanvallers en die landelike beveiligingsplan bestaan slegs in teorie maar nie in die praktyk nie.
“Die wreedheid van die plaasmoord is skokkend en behoort die regering tot aksie te dwing om daadwerklik op te tree - anders is dit duidelik dat die regering apaties staan teenoor rassisme en plaasmoorde.”
Thulani Ngubane, ‘n polisiewoordvoerder, het egter gesê dit is nog te vroeg om oor die motief vir die moord te spekuleer.
Van der Merwe se lyk is Saterdagaand gevind, vasgebind aan sy bakkie, het die polisie gesê.
"Omstreeks 20:00 Saterdagaand het drie verdagtes die boer se huis binnegaan. Hulle het sy huis deursoek en hom toe in sy bors, rug en kop geskiet. Daarna het die verdagtes die boer se bakkie gebruik om hom sowat 1.2 km ver te sleep voordat die bakkie gerol het," het Ngubane gesê.
Die boer se liggaam was steeds vasgebind aan die voertuig toe die polisie by die toneel opgedaag het.
Een van die verdagtes is dadelik in hegtenis geneem, waarna hy die polisie na die twee ander verdagtes geneem het.
Ngubane het gesê hoewel die wreedheid van die aanval daarop dui dat die boer, wat alleen gewoon het, sy aanvallers geken het, kan dié vermoede nog nie bevestig word nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24