Plaasmoord-verdagtes in hof
2011-07-05 21:00
Johannesburg – Twee mans het Dinsdag in die landdroshof in Heidelberg verskyn in verband met die moord op ‘n bejaarde paartjie op hul plaas, het die polisie gesê.
Volgens lt. kol. Lungelo Dlamini is die saak teen Solomon Dlamini en Petrus Motloung tot 8 Julie uitgestel sodat hulle regsverteenwoordiging kan reël.
Hulle word daarvan beskuldig dat hulle Charlotte Bekker (60) en Martiens Bekker (68) Saterdagaand vermoor het.
Volgens die polisie het ‘n insleepdiens die paartjie se seun gebel nadat hul motor omgekeer op die R42 naby Vereeniging gevind is.
Hy het kort ná 05:30 by die plaas by Houtpoort aangekom. Sy ma was in die woonkamer vasgebind en het veelvuldige steekwonde gehad. Sy was reeds dood.
Hy het sy pa, ook met veelvuldige steekwonde, dood op die slaapkamervloer aangetref.
Die huis is geplunder en ‘n jaggeweer en elektriese toebehore word vermis.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA