Plaasbesetters boer lustig voort
2011-07-01 09:16
QwaQwa – ’n Man en vrou wat Maandagaand hier hul intrek op ’n plaas tussen Phuthaditjhaba en Harrismith geneem het “omdat Malema gesê het hulle moet die grond terugvat”, het gister steeds lustig met hul 25 beeste hier voortgeboer.
Terwyl die polisie betrek is en planne gemaak word om Masiteng Petrus Sekonyela en Masefefo Julia Khoete met hul blou woonwa, sinkhut en 25 beeste van die plaas af te kry, het die paartjie Donderdag steeds volgehou dit is hul grond.
Steve Swart, ACDP-LP, het die besetting gister ten sterkste veroordeel.
“Hierdie mense en alle ander wat dit probeer nadoen, moet so gou moontlik verwyder word. Sulke besettings is onwettig.
“En wie is Julius Malema eintlik dat mense sommer so voor die voet na hom wil luister? Waar kom sy gesag vandaan? Sulke onwettige grondbesetting lei altyd tot anargie en wanorde.”
Flip Geel, streekleier van Vrystaat Landbou (VL), het die eienaar van die plaas, mnr. Petrus Weyers, gister besoek om eerstehandse inligting oor die besetting te kry. Dié inligting is aan VL se provinsiale leiers en bestuur deurgegee. “VL maak erns van die saak.”
Die paartjie se plakkery op dié plaas het skerp reaksie van Suid-Afrikaners op Volksblad en Media24 se webwerwe ontlok.
Talle mense het gesê daar moet onmiddellik teen sulke besetters opgetree word om ’n Zimbabwe-situasie te verhoed.
“So, dit merk die begin van die einde. Zimbabwe is op ons vinniger as wat ons kon dink...Dankie Malema!!” het elona.burger op Volksblad se webwerf gesê.
Baie het skerp en drastiese stappe teen die besetters voorgestel.
Madingoman het gesê die besetters se woonwa moet aan die brand gesteek word.
Roman Moroni het polisie-optrede gevra. “As die polisie gaan voete sleep om die saak te ondersoek en nie die mense van die plaas afkry nie, gaan nog kanse vat en so-aan en so-aan en kort voor lank sal daar so baie wees dat dit nie beheer kan word nie en dan is dit game, set and match”.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad