Plaasaanvallers tronk toe
2011-07-04 20:56
Pietermaritzburg – Twee KwaZulu-Natalse plaasaanvallers, wat ‘n huiswerker en ‘n sewejarige seun vermoor het sodat hulle nie uitgeken kon word nie, is Maandag tronkstraf opgelê.
Regter Anton van Zyl het in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg Phumlani Luthuli (22) tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Sy 17-jarige makker is tot 27 jaar tronkstraf gevonnis. Hy sal eers ná 18 jaar aansoek om parool kan doen.
Hulle mede-beskuldigdes, Zwamokwakhe Nxumalo (22) en nog ‘n tiener wat 16 jaar oud is, is ‘n opgeskorte vonnis van twee jaar tronkstraf opgelê nadat hulle slegs aan diefstal skuldig bevind is. Hulle het gehelp om gesteelde goedere uit die plaashuis te verkoop.
Die huiswerker, Mildred Dlamini, en die seun, Kwanele Mnikathi, is albei in die nek gesteek.
Luthuli is ook 20 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede.
Van Zyl het gesê die twee wat opgeskorte vonnisse ontvang het, kon dalk by die ander misdade betrokke gewees het, maar dit kon nie bewys word nie.
Die vier het in Desember 2008 die plaashuis van Colin Lucke en sy gesin betree. Die gesin was weg met vakansie.
Hulle het Dlamini gesteek nadat hulle haar gedwing het om die sleutel te oorhandig. Toe hulle die seun gesien het, het hulle hom ook gesteek, uit vrees dat hy hulle sou kon uitken.
Van Zyl het gesê die moorde was afskuwelik en onnodig, aangesien die slagoffers geen dreigement vir die bende ingehou het nie. Die skuldiges is deur gretigheid gedryf en het geen berou getoon tydens die verhoor nie.
Hulle het die Lucke-gesin se besittings op Lucke se bakkie gelaai, die besittings verkoop en die winste geniet. Hulle het selfs na die plaas teruggekeer om nóg van die gesin se besittings te vat, terwyl Dlamini steeds dood op die kombuisvloer gelê het. Dít het die bose aard van hul dade vererger, het Van Zyl gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA