Plaasaanvallers ook met ander gevalle verbind
2011-11-26 11:38
Kaapstad – Drie mans wat onlangs in hegtenis geneem is in verband met 'n plaasaanval in Grabouw was na bewering verlede maand by 'n soortgelyke aanval betrokke, het die Wes-Kaapse polisie Saterdag gesê.
Kol. Andre Traut het gesê die mans staan tereg op aanklagte dat hulle Shirleen Booysen, 59, Maandag op haar plaas Blaauwkrans geskiet en ernstig beseer het.
Hulle het na bewering van die toneel gevlug met drie selfone en 'n vuurwapen.
Die mans, 29, 32 en 49, is Vrydag in hegtenis geneem.
"Behoorlike ondervraging van die verdagtes het onthul dat hulle ook verantwoordelik is vir 'n ander plaasaanval, ook in Grabouw," het Traut gesê.
Hy het gesê die gesteelde selfone en vuurwapen is teruggevind.
Die mans sal Maandag in Grabouw se landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA