Plaasaanvalle kos miljoene
2010-04-20 20:09
Kaapstad – Misdaad gemik op boere kos die landbou-sektor miljoene rande en hou ’n groot bedreiging vir die land se voedselsekuriteit in, het André Botha, voorsitter van Agri SA se Landelike Beveiligingskomitee, Dinsdag aan die parlement gesê.
Botha het aan die portefeulje komitee gesê veediefstal op sy eie het Agri SA sedert 1991 sowat R365m gekos.
"Geen industrie kan so ‘n verlies oorleef nie,” het Botha gesê.
Hy het bygevoeg die totale verlies weens misdaad, van die steel van draadheinings en pale tot gereedskap het sowat R269m gekos.
"Indien al die kostes weens misdaad bygetel word, is dit duidelik dat ons deel van ‘n sukkelende bedryf is en die voedselsekuriteit bedreig word,” het Botha gesê.
Botha, wat se organisasie na bewering sowat 80% van Suid-Afrika se 33 000 kommersiële boere verteenwoordig, het gesê daar was 11 785 aanvalle op plase en 1 804 moorde sedert 1991.
"Dit is twee per week en dit neem toe,” het hy gesê.
“Die wreedaardige wyse waarop die moorde gepleeg word is net so kommerwekkend.”
Een van die grootste uitdagings van die landbou-sektor is “onverantwoordelike uitlatings” wat deur betaalde regeringsamptenare en politici gemaak word.
"Ek pleit dat ons nie meer moet praat van wit en swart boere nie.”
Botha het gesê haatspraak en ongevraagde uitlatings sal nie op plase geduld word nie en dat die landbou-unie van Suid-Afrika ‘n saak by die naaste polisiestasie sal indien, waar ook al dit gebeur.
“Ons sal dit doen totdat Suid-Afrika van hierdie siekte ontslae is.”
- Sapa