Plaasaanvalle 'erger as wat publiek dink'
2012-11-28 11:51
Johannesburg – Geweld wat teen slagoffers van plaasaanvalle gepleeg word, is baie erger as wat die publiek hulle kan indink, het twee werkers wat misdaadtonele skoonmaak, aan die dagblad Beeld gesê.
Eileen de Jager en Roelien Schutte, twee susters wat landwyd misdaadtonele skoonmaak, het by die bekendstelling van ’n omvattende verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut oor plaasaanvalle gesê hulle het uit ervaring gesien dat baie meer geweld in plaasaanvalle gebruik word.
Hulle meen as die publiek werklik weet wat tydens dié aanvalle en moorde gebeur, dit ’n wekroep sal wees wat gemeenskappe sal mobiliseer om baie meer paraat te wees.
“Slagoffers word ook gemartel deurdat hulle agter voertuie aangesleep of met kookwater vermink word. Dit is mal verby,” het De Jager gesê.
Lorraine Claassen, ’n kriminoloog, sê dit is ontstellend dat plaasaanvalle nie die aandag kry wat dit moet nie.
“Die uitermatige vrees wat mense ervaar as hul lewe in ’n aanvaller se hande is, is verlammend en onbeskryflik. Geen mens verdien om op so ’n wreedaardige, onmenslike en onregverdige wyse vermoor te word nie.”
Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS), het gesê dit is duidelik die regering sien nie die voortslepende aanvalle op plase as ’n prioriteit nie.
“Die situasie moet ’n nasionale krisis wees en dit moet gefokusde aandag kry.”
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA