‘Plaas meer klem op lewende erfenis’
2010-09-25 06:36
Die Burger
Kaapstad - Honderde Kapenaars het Erfenisdag Vrydag in die Kompanjiestuin gevier.
Afrika-tromme, Maleise kos, tradisionele danse en kunsuitstallings het die byeenkoms, wat deur die Iziko-museums gereël is, gekenmerk.
Prof. Jatti Bredenkamp, uitvoerende hoof van die Iziko-museums, het gesê daar moet meer klem op ’n “lewende erfenis” geplaas word.
“Dit is die herinneringe, geskiedenis en stories wat belangrik is en nie noodwendig tasbare goed nie,” het Bredenkamp gesê.
’n Erfenisboom wat deur leerders van die Hoërskool Heideveld geverf en versier is, het erfenisboodskappe van liefde en eenheid vertoon.
Die Coral International-hotel het gratis tradisionele geregte vir mense aangebied en die Ikapa-dansgeselskap het vir die vermaak gesorg.
Bevil Spence van Drumba, ’n Afrika-tromgeselskap van Kaapstad, het mense geleer tromme speel. “Dit is belangrik dat alle kulture in die land op Erfenisdag gevier word. Deur saam tromme te speel, word mense herenig,” het hy gesê.
“Ek dink dit is baie gepas dat vieringe juis in die Tuine gehou word omdat dit een van die min plekke is waar almal gedurende die apartheidsera welkom was.”
Dawn Pyne van Belhar het kinders van dié woonbuurt na die gratis vertonings in die planetarium by die museum gebring. “Gewoonlik braai ons, maar die vieringe het na ’n beter idee geklink.”
Een van Kaapstad se bekende toeriste-trekpleisters, die Eierman, het ook ’n draai by die verrigtinge gemaak. “Ek hoop alle Suid-Afrikaners kan vandag as broers en susters saam vier,” het hy gesê. Die publiek kan die Iziko-museums die komende week gratis besoek ter viering van Erfenisweek.
- Die Burger