Pistorius-familie 'verlig' oor borgtog
2013-02-22 18:05
Kaapstad – Oscar Pistorius se borgtogaansoek het vroeër vandag ná vier uitmergelende dae tot ‘n einde gekom toe hy in Pretoria se landdroshof borgtog toegestaan is.
Adv. Barry Roux – regsverteenwoordiger van die wêreldberoemde sportheld wat nou ook ‘n moordbeskuldigde is – en die staatsaanklaer, adv. Gerrie Nel, het ná die hofverrigtinge op die atleet se borgtogvoorwaardes ooreengekom.
Die staat het borgtog van R250 000 voorgestel, maar landdros Desmond Nair het die bedrag op R1 miljoen vasgestel.
Pistorius moet R100 000 kontant betaal voor hy vrygelaat word. Hy kan die res (R900 000) teen 1 Maart vereffen.
Pistorius moet nou ál sy vuurwapens oorhandig en vir berading gaan. Hy mag glad nie van enige klag van geweld teenoor vrouens aangekla word nie.
Hy moet ook elke Maandag en Vrydag tussen 07:00 en 13:00 by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria aanmeld. Nair het bygevoeg die moordbeskuldigde mag glad nie drink of dwelms gebruik nie, en dat hy enige tyd daarvoor getoets kan word.
Pistorius moet sy paspoorte indien.
Die saak is tot 4 Junie uitgestel.
Nair se beslissing
Die landdros het eers ‘n opsomming van die verdediging se argumente gemaak. Daarna het hy die staat se saak teen die beskuldigde weergegee.
Roux het vroeër die week aangevoer dat die beskuldigde nie ‘n vlugrisiko is nie. Hy het ook gesê die atleet het aangedui dat hy nie met getuies sal praat of met die ondersoek sal peuter nie. Pistorius het ook glo ingestem om al sy reisdokumente in te dien.
Nel het egter die aansoek om borgtog teengestaan. Die staat hou vol dat die misdaad moord met voorbedagte rade was, en dat die verdediging nie uitsonderlike redes verskaf het om die borgtog te laat goedkeur nie.
Die staatsaanklaer het gesê die sportman het nie aangebied om sy paspoort prys te gee nie, maar het gesê hy sal dit wel doen as dit ‘n voorwaarde vir borgtog is.
Pistorius word daarvan aangekla dat hy sy vriendin, Reeva Steenkamp, verlede week in sy spoghuis in Silver Woods, Pretoria, doodgeskiet het. Die model is vroeër die week in haar tuisstad, Port Elizabeth, tydens ‘n emosionele roudiens ter ruste gelê.
'n Woordvoerder vir die beskuldigde se familie het ná die hofverrigting gesê die familie is “verlig” oor die landdros se beslissing, maar dat dit steeds ‘n hartseer tyd vir die oorledene se familie en die atleet se geliefdes is.
Afgelope week
Pistorius is sedert sy inhegtenisneming verlede week by ‘n polisiekantoor aangehou.
Dit het vroeër aan die lig gekom dat die aanhoudingselle by die polisiestasie waar die paralimpiese kampioen aangehou is, geen beddens het nie. Pistorius het dus op die grond geslaap. Hy het ook soms die sel met ander gevangenes gedeel.
Opskudding in die saak het die afgelope week voortgeduur nadat plaaslike mediabronne berig het dat ao. Hilton Botha, hoof-ondersoekbeampte in die saak, tereg staan op sewe aanklagte van poging tot moord.
Dié aanklagte – wat aanvanklik laat vaar is en onlangs weer heropen is – hou verband met 'n skietvoorval in 2011, toe hy en twee kollegas na bewering onder die invloed van drank was.
Pistorius se borgtogaansoek het egter ten spyte van dié omstredenheid, in die hof voortgeduur.
Suid-Afrika se polisiekommissaris, Riah Phiyega, het ná die derde dag van die borgtongaansoek op ‘n mediakonferensie aangekondig dat een van die mees senior ondersoekbeamptes in die SAPD, die ondersoekbeampte sal vervang.
Suid-Afrikaners was die afgelope week voor hul selfone en rekenaarskerms vasgenael om verwikkelinge in die atleet se borgtogaansoek dop te hou. Belangstellendes het veral hul aandag op Twitter gevestig, aangesien foto- en videograwe nie die hofverrigtinge kon afneem nie.
Talle joernaliste het regstreeks vanuit die hof getwiet, en sodoende nuuskieriges van die gebeure op hoogte gehou.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24