Pinkie Pelser wou al voorheen selfmoord pleeg
2010-06-03 07:00
Volksblad
Bloemfontein – Die bekende Pinkie Pelser (38), wat haarself in ’n motor agter ’n vulstasie in die Ferreira-omgewing by Bloemfontein vergas het, was die laaste tyd glo erg depressief en het deur ’n “slegte tyd” gegaan.
Sy het met tye aan depressie gely en het ook al vroeër gedreig om selfmoord te pleeg. Sy het al voorheen behandeling vir depressie ontvang, is gister aan Volksblad gesê.
Hentie van Vuuren, haar eerste man en pa van haar twee kinders, sê sy seun en dogter is “rou” sedert hulle Dinsdag van haar dood gehoor het.
“Hulle is baie emosioneel. Hulle het hul ma verloor. Ek probeer my bes om hul las ligter te maak.”
Hy sê sy was baie lief vir haar twee kinders. Hy glo sy het vrede met haar Skepper en ook met mense gemaak. “Ek is seker sy het die laaste tyd vrede gemaak en is nou rustig.”
Sandra Mulder, wat haar goed geken het, sê Pelser was ’n wonderlike mens wat net geluk en liefde gesoek het.
Dinge wou net nie vir haar reg uitwerk nie. Sy was soos ’n roulettetafel met die bal wat elke keer op die verkeerde nommer geval het. Sy het elke keer op die verkeerde man verlief geraak.
Pelser het al vir haar gesê: “Ek wil net gelukkig wees en ’n man hê wat vir my lief is en nie net agter my lyf aan is nie.”
Mulder sê Pelser het al ’n paar keer beplan om selfmoord te pleeg. Sy het ook al ’n oordosis pille gedrink.
Zola Budd-Pieterse, bekende langafstandatleet wie se man, Mike, in 2006 glo in ’n stormagtige verhouding met Pelser betrokke was, het gistermiddag uit Amerika aan Volksblad gesê wat gebeur het, is in die verlede en agter haar. Sy wil geen kommentaar lewer nie.
* Een van Pelser se selfmoordpogings het wye nuusdekking geniet toe sy haarself nadat dié verhouding beëindig is in ’n nagtelike drama in ’n huis van dié bekende Pieterse-egpaar in Waverleyweg, Bloemfontein, wou skiet.
- Volksblad