Pille sterkste verslankingsmedisyne nóg
2010-01-30 09:02
Antoinette Pienaar
Johannesburg - Verslankingsprodukte met 29 mg onwettige sibutramien is byna dubbel so sterk soos die sterkste voorskrifverslankingsmedisyne op die mark.
Só het prof. Tessa van der Merwe, endokrinoloog en wêreldbekende vetsugspesialis, gister gewaarsku nadat Pharmaworx in Midrand 9 mg tot 29,1 mg sibutramien in kapsules met die handelsmerke Nu-Evo, HNS New Me, Forme Slim en Simply Slim gekry het.
Die Medisynebeheerraad (MBR) het gister beslag gelê op Nu-Evo by ’n huis in Waterkloof, Pretoria.
Van der Merwe het gesê verbruikers met byvoorbeeld onstabiele angina en die geneigdheid tot beroertes kan ernstige mediese komplikasies ontwikkel indien hulle dosisse van 29?mg sibutramien inkry.
“As daar wel met die verspreiders se kennis sibutramien in dié produkte is, is hulle besig met een van die mees afgryslike mediese wanvoorstellings wat daar is.
“Die middel Reductil is al tien jaar gelede in dosisse getoets en daar is bevind die verskil in newe-effekte tussen 15mg en 30mg sibutramien is radikaal, terwyl die verhoogde dosis nie noemenswaardig meer gewigsverlies teweeg bring nie,” het sy gesê.
Die owerhede in die VSA en Europa het bevind 15mg is die maksimum toegelate dosis, maar die Europese Medisyne-agentskap het onlangs aanbeveel dat die produk nie daar verkoop word nie weens die newe-effekte vir veral mense met bestaande kardiovaskulêre probleme.
Volgens Van der Merwe moet sibutramien onder streng dokterstoesig gebruik word.
“Watter kennis het ’n haarkapper (met verwysing na agente wat verslankingsmiddels bemark) van chemiese hartsiekte en die ontwikkeling van beroerte?
“Sy is nie opgelei om ’n mediese geskiedenis te neem nie.”
Van der Merwe meen ook die vrywaringsvorms wat bemarkers van dié produkte aan die publiek gee, gaan hulle nie vrywaar van mediese skade wat in pasiënte aangerig is weens sibutramien wat dalk onwettig daarin is nie.
Die vervaardigers van Nu-Evo, HNS New Me en Forme Slim het die afgelope week aan Beeld gesê hulle sal met die owerhede saamwerk oor die sibutramien wat in hul produkte gekry is.
- Beeld