Pikoli tevrede met R7,5 milj.
2009-11-23 08:44
Pieter du Toit
Kaapstad - R7,5 miljoen en ’n paar mooi woorde.
Dít was genoeg vir adv. Vusi Pikoli, afgedankte nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), om ’n regsgeding – wat in ’n verleentheid vir die regering en die ANC kon ontaard – terug te trek en enige vrese wat hy oor die inmenging van die uitvoerende gesag by die regsgesag gehad het, te besweer.
“Die skikkingsooreenkoms het Pikoli tevrede gestel. Die staat maak daarin ’n aantal betekenisvolle toegewings, insluitend ’n bevestiging van die onafhanklikheid van die regbank,” het mnr. Aslam Moosajee, Pikoli se regsverteenwoordiger, gister gesê.
Pikoli was nie vir kommentaar beskikbaar nie, maar volgens Moosajee “is hy tevrede sy reputasie is in ere herstel”.
Die staat beskryf Pikoli in die ooreenkoms as “bekwaam, iemand met integriteit en pligsgetrou”. Dít nadat hy in September 2007 geskors en toe vroeër vanjaar afgedank is omdat hy glo nie sensitief genoeg vir kwessies van nasionale veiligheid was nie, sy bestuurstyl as onverantwoordelik en laks beskryf is en sy werksverhouding met die destydse minister van justisie (me. Brigitte Mabandla) só ontaard het dat hulle nie kon saamwerk nie.
Pikoli sal die klag van onregverdige afdanking wat in die hooggeregshof in Pretoria aanhangig gemaak is, vandag terugtrek.
“Ons is deur twee bekende bemiddelaars genader om te kyk of ons en die staat tot ’n vergelyk kon kom en het Saterdag onderhandel,” het Moosajee gesê. Moosajee was onseker wat Pikoli se planne vir die toekoms is.
Pikoli was tot onlangs toe nog onverbiddelik in sy mening dat hy die slagoffer van politiekery en inmenging deur die destydse presidente mnre. Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe was – eersgenoemde omdat hy probeer keer het dat mnr. Jackie Selebi, voormalige nasionale polisiekommissaris, in hegtenis geneem word en laasgenoemde omdat hy wou keer dat pres. Jacob Zuma strafregtelik vervolg word.
Die ooreenkoms bring ’n sage tot ’n einde wat in 2007 begin het toe Pikoli vir Mbeki gesê het hy is van plan om Selebi op aanklagte van bedrog en korrupsie in hegtenis te neem – die aanklagte waarop Selebi tans tereg staan.
- Die Burger