Pikoli ontken beskuldigings oor aandele
2009-11-17 23:41
Johannesburg – Vusi Pikoli, die voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, het hom vererg teen beskuldigings oor ‘n beweerde gesprek wat hy met die voormalige polisiekommissaris Jackie Selebi, aangaande sy vrou se aandele, gehad het.
Pikoli het Dinsdag in die Johannesburgse hooggeregshof getuig. Hy het ontken Selebi hom ingeroep het en konfronteer het oor aandele wat sy vrou glo van ‘n BEE-mynmaatskappy ontvang het.
Daar word beweer dat die aandele deur Roger Kebble, die pa van die mynmagnaat Brett Kebble, aan Pikoli se vrou gegee is.
Jaap Cilliers, vir die verdediging, het aan Pikoli gestel dat ‘n vergadering oor die saak plaasgevind het en dat Pikoli emosioneel geraak het oor die saak en “woorde gebruik het wat voorgestel het dat sy vrou sy Achilles-hiel is".
“So iets kan net in die gedagtes van ‘n wrede persoon opgemaak word,” het Pikoli teruggeklap
Die hof het verdaag tot Donderdag wanneer die voortvlugtige Billy Rautenbach sal getuig.
- Sapa