‘Pigspotter’ kry prokureur
2010-09-28 16:19
Johannesburg - Twitter se verkeerswaghond 'Pigspotter' het ‘n prokureur gekry en die Direkteur van Openbare Vervolgings (DOV) genader om die aanklagte teen hom te laat vaar.
Die Twitter-gebruiker, wat moeilikheid met die gereg het omdat hy motoriste waarsku oor die ligging van spoedlokvalle, sal deur die prokureur Karl Schuler verteenwoordig word.
“Ek kan bevestig dat ons die DOV in Gauteng genader het om ‘n besluit te maak oor of hulle met die kwessie gaan volhard,” het Schuler aan Sapa gesê.
“Ons het hulle gevra om nie voort te gaan met die vervolging nie.”
Die Nasionale Vervolginsgesag se woordvoerder, Mthunzi Mhaga, het dit bevestig.
Schuler het gesê hy sal ‘Pigspotter’ se identiteit teen sy bors hou.
‘Pigspotter’ het reeds 20 716 volgelinge op die sosiale netwerk Twitter. Hy staan ook as Cliff bekend en bied wenke aan Twitter-gebruikers oor die ligging van spoedlokvalle en padblokkades.
Die metropolisie het ‘n klag van crimen injuria en dwarsboming van die gereg teen ‘Pigspotter’ by die Sophiatown-polisiekantoor aanhangig gemaak.
‘Pigspotter’ het ‘n onskuldige verduideliking vir die term “pig,” wat hy gebruik om metropolisielede te beskryf – volgens hom is dit bloot ‘n afkorting vir “Polisie in Gauteng”.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA