Pick ‘n Pay se lorrie gekaap
2009-08-20 22:46
Johannesburg- ‘n Vragmotor wat kruideniersware van Pick n Pay ter waarde van R150,000 vervoer het is in Kempton Park gekaap, berig die polisie.
Volgens insp. Balan Muthan, polisiewoordvoerder, is die vragmotor naby die Rabie Ridge-area deur vier mans gekaap.
Een van die verdagtes het ‘n vuurwapen by hom gehad.
“Die bestuurder en sy twee assistente is uit die vragmotor gegooi,” het Muthan gesê. Een van die mans het die saak by die polisie aangemeld.
Die bestuurder van die vragmotor is met die kaping verbind. Hy het die polisie later na Kaya Sands geneem waar die vragmotor gevind is. Dit het glo in die parkeerarea van Builders Warehouse gestaan.
Die 24-jarige bestuurder is deur die polisie in hegtenis geneem. Die ander verdagtes is steeds soek.
–Sapa