Petros-gesin geskok ná inbraak
2011-06-25 14:50
Johannesburg – Lt.genl. Mzwandile Petros, polisiehoof in Gauteng, en sy gesin is geskok ná 'n inbraak Vrydagaand by hul huis in Johannesburg.
Petros se vrou was ten tyde van die voorval in die huis en het alarm gemaak. Die gesin was nie in direkte kontak met die verdagtes nie en niemand is beseer nie.
"Enigiemand sal ná 'n voorval soos dit geskok wees, so die kommissaris is geskok," het Neville Malila, Petros se woordvoerder, gesê.
Die inbrekers het 'n plasma-televisie gesteel voor hulle gevlug het.
Dit is nie duidelik hoe die rowers toegang tot die perseel verkry het nie, maar daar word vermoed dat hulle oor een van die mure geklim het.
Die polisie is steeds op soek na die groep.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter