'Bom' by winkelsentrum toe net drade
2011-11-29 10:00
Johannesburg – Die toestel wat Maandag in 'n boks by die Eastgate-winkelsentrum gevind is, is nie 'n bom nie, het lt.genl. Mzwandile Petros, Gautengse polisiehoof, gesê.
Die boks is oopgemaak en "slegs elektriese drade" is daarin gevind, het Petros in 'n telefoniese onderhoud gesê.
Die polisie het die toestel gedetoneer omdat dit protokol is wanneer hulle 'n verdagte toestel van die aard hanteer.
Petros het gesê hy glo die persoon wat die toestel buite 'n juwelierswinkel geplant het, het beplan om die winkel te beroof.
Die polisie is besig om leidrade op te volg, maar niemand is in hegtenis geneem nie.
Die Gautengse polisie het vroeër gesê die pakkie wat buite die winkel gevind is, is 'n bom.
Die bestuur van die Eastgate-winkelsentrum het Maandagaand in 'n verklaring gesê sekuriteit by die sentrum sal ná die vonds verskerp word.
Die boks met drade is 11:00 gevind nadat die sekuriteit van die pakkie in kennis gestel is.
Kapt. Katlego Mogale het gesê die bomeenheid het die pakkie vir veilige detonasie uit die sentrum verwyder.
Die bestuur van die winkelsentrum het gesê dít is die oorsaak van die harde geluid wat in die gebied gehoor is.
Die winkelsentrum is 14:00 heropen.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA