Petroltekorte kan vererger
2011-07-17 09:16
Johannesburg – Die terugtog van vakansiegangers voordat skole Maandag landwyd heropen, kan die petrolkrisis vererger.
Daarby was daar ook ’n skerp styging in “paniekverkope” deur motoriste wat vrees hulle sal binnekort nie meer petrol kan bekom nie.
Minstens 250 van die 1 200 vulstasies in Gauteng het teen Saterdag geen brandstof meer gehad nie.
Baie vulstasies in KwaZulu-Natal het glo ook nie meer brandstof nie. Tekorte is ook in Springbok en Upington in die Noord-Kaap aangemeld.
“Die situasie het nou ’n krisispunt bereik,” sê Reggie Sibiya, uitvoerende hoof van die brandstof-kleinhandelaarsvereniging (FRA).
“Dit is nie net gewone motoriste wat moet rondry om brandstof te kry nie. Selfs ambulanse sukkel om brandstof te kry en motorverhuringsmaatskappye kla nou hulle het ’n tekort aan brandstof,” sê Sibiya.
“Ons is bekommerd dat as die staking veel langer duur dit ’n uiters negatiewe uitwerking op die hele ekonomie kan hê en ’n chaos op die paaie veroorsaak,” sê Gary Ronald, woordvoerder van die Automobiel-Assosiasie (AA).
Desperate motoriste in Johannesburg en Pretoria moes sedert Woensdag ure lank rondry op soek na brandstof en sommige motoriste het selfs 14 vulstasies aangedoen.
Teen Donderdag het mense Twitter begin gebruik om vas te stel waar daar nog brandstof beskikbaar is.
Deur #gotpetrol op Twitter in te tik kon hulle sien waar daar nog brandstof was.
Peter Noke, nasionale direkteur van die Suid-Afrikaanse Petroleum-kleinhandelaarsvereniging (Sapra), sê wel daar kan vandag tydelik meer brandstof beskikbaar wees “omdat stakers die naweek gerus het”.
Nie-stakende drywers by die drie depots in Johannesburg, Pretoria en Alberton kon dus brandstof aflewer sonder dat hulle deur stakers bedreig word.
“Alles moontlik is oor die naweek gedoen om die tekorte te hanteer. Die polisie en veiligheidswagte het nie-stakende drywers beskerm,” sê hy.
Daar is veral op vulstasies langs die hoofweë gefokus om voldoende voorrade vir vakansiegangers op die huiswaartse skof te probeer verseker.
“Ons verwag egter Maandag weer hoë vlakke van intimidasie. Dit kan ook weke duur om die agterstand in brandstofvoorsiening in te haal, selfs al word die staking Maandag beëindig,” sê hy.
Brandstof word reeds van depots buite die provinsie na Gauteng aangery, sê Noke.
Baie vulstasies het intussen brandstofbeperkings ingestel van 200 liter per transaksie om die paniek-aankope te beheer, sê Sibiya.
“Ongelukkig is daar mense wat al hul voertuie, bote, vierwielmotorfietse, waterponies en ook dromme laat vul. Hulle dink net aan hul eie naweekpret,” sê Noke.
Die wet verbied handelaars om houers met brandstof te vul en vulstasies wat die wet oortree, kan hul lisensie verloor om brandstof te verskaf, waarsku Noke.
Die vakbond Ceppwawu het Saterdag aangedui dat hy eers môre met die brandstof- en farmaseutiese bedryf se werkgewersgroep in die nasionale bedingingsraad gaan onderhandel.
John Appolis van Ceppwawu sê onderhandelinge is tot môre uitgestel weens “logistieke probleme”.
Hy waarsku stakings sal voortgaan as daar nie gehoor gegee word aan hul eise vir ’n salarisverhoging van 11% en ’n minimum salaris van R6 000 per maand nie. Werkgewers bied tans 7% aan.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport