Petroltekort dreig
2012-03-02 09:00
Johannesburg – Motoriste in Gauteng kan weer ’n tekort aan brandstof en neweprodukte verwag as infrastruktuurprobleme nie dringend aandag kry nie.
Dipuo Peters, minister van energie, het dié week in die parlement in antwoord op ’n vraag van die DA gesê haar departement het ’n oudit van stapel gestuur om raffinaderye se ware produksievermoë te bepaal.
Die land se raffinaderye produseer minder as 80% van die kapasiteit waarvoor hulle ontwerp is, het sy gesê.
Shell het Donderdag ’n waarskuwing aan bitumengebruikers gestuur nadat ’n kragverspreidingseenheid by die Sapref-raffinadery in Durban dié week gebars het.
Elton Fortuin, Shell-woordvoerder, het gesê ’n petroltekor word nie tans verwag nie en die eenheid behoort vandag weer op dreef te wees.
Daar is reeds sedert November verlede jaar sporadiese probleme met brandstofverskaffing in die land.
Peter Noke, nasionale direkteur van die Suid-Afrikaanse Petroleum-kleinhandelaarsvereniging (Sapra), het vroeër gewaarsku ’n landwye tekort aan brandstofprodukte weens verouderde infrastruktuur is ’n onmiddellike moontlikheid as die staat en ander rolspelers die probleem nie gou takel nie.
Volgens Avhapfani Tshifularo, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse brandstofbedryfvereniging (Sapia), gebruik Suid-Afrika sowat 11,3 miljard liter petrol en 9,1 miljard diesel per jaar.
Die meeste van Suid-Afrika se raffinaderye is in die 1960’s gebou en die petroleumbedryf verkeer onder aanhoudende druk.
Noke het gewaarsku dat veral kleiner vulstasies op die platteland hul deure in die nabye toekoms sal moet sluit.
“Ons infrastruktuur het nie tred gehou met ontwikkeling nie.”
Suid-Afrika het ses raffinaderye, waarvan Sapref (Shell en BP) die grootste is.
Die Chevron- (Caltex)-raffinadery in Kaapstad is gesluit vir instandhouding en sal eers in die eerste week in April weer begin om ruolie te raffineer.
Sapref verwerk daagliks meer as 28 miljoen liter ruolie.
In 2009, die laaste jaar waarvoor statistieke beskikbaar is, het Gauteng meer as 4 miljard liter petrol en 2,2 miljard liter diesel verbruik.
Dr. Rod Crompton, reguleerder verantwoordelik vir petroleumpypleidings van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa), het gesê die departement van energie is verantwoordelik vir die sekerheid van die voorsiening van petroleumprodukte.
Ingevolge die Wet op Brandstof-pypleidings wat Nersa administreer, moet daar gesorg word dat genoeg brandstof beskikbaar is om in die markbehoefte te voorsien.
Tshifularo het gesê hulle ondersteun die departement se pogings om uitdagings met die voorsiening van brandstof te takel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld