Persklub verdedig nuusmaker-besluit
2013-01-21 10:23
Johannesburg – Die Nasionale Persklub het sy besluit verdedig om renosters in Suid-Afrika as verlede jaar se nuusmaker van die jaar aan te wys.
"Die besluit is oorweeg deur 'n komitee wat bestaan uit lede van die media en mense wat die media monitor," het Antoinette Slabbert, voorsitter van die persklub, aan The Star gesê.
Sy het gesê die besluit is in diepte bespreek en dat Marikana oorweeg is, maar die komitee moes kyk wie die meeste nuus regdeur die jaar gemaak het.
"Dit is bietjie ongewoon om 'n dier as nuusmaker aan te wys," het Slabbert gesê en uitgewys dat die tydskrif Time al 'n rekenaar as persoon van die jaar aangewys het.
"Dit is nie so vergesog nie en die bohaai is nie nodig nie."
Die persklub is die afgelope naweek deur ondermeer sy voormalige voorsitter, Yusuf Abramjee, gekritiseer oor sy besluit.
Verskeie mense het ook op die sosiale netwerk Twitter kommentaar gelewer oor die besluit.
"Ek was verbaas en geskok oor die aankondiging. Ek stem saam dat renosters in 2012 in die nuus was, maar nuusmaker? Sekerlik nie," het Abramjee gesê.
"Daar was baie individue, organisasies en gebeure wat die nuus gehaal het. Dit sluit in Marikana, Nkandla, Mdluli, Outa, Cosatu en die e-tolstelsel."
Die politieke ontleder Eusebius McKaiser het op Twitter geskryf: "Die persklub het nie regtig die renoster as nuusmaker van die jaar aangewys nie, het hy? Ek sou eerder [die handpop] @chestermissing as nuusmaker van 2012 aanwys".
Chris Vick, ’n beeldpoetser, het gesê: "Aon bied versekeringsdekking vir die renoster. Aon borg die persklub se nuusmaker van die jaar. Renoster aangewys as nuusmaker van die jaar. Maak die verbinding".
Aon Suid-Afrika is 'n versekeringsmaatskappy wat die persklub se nuusmaker van die jaar-toekenning borg.
Die persklub het die aankondiging Vrydag in Pretoria gemaak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA