Perlemoenstroper verdrink
2012-10-26 07:05
Johannesburg – 'n Perlemoenstroper het verdrink toe beamptes van die departement van landbou, bosbou en visserye Donderdagoggend probeer het om hom aan die kus van Hermanus in hegtenis te neem, het Wes-Kaapse owerhede gesê.
Beamptes wat die kus op waterponies patrolleer, het ongeveer 11:00 op drie mans afgekom wat besig was om vir perlemoen te duik, het Lionel Adendorf, 'n woordvoerder vir die departement, in 'n verklaring gesê.
Een van die stropers het na die strand geswem terwyl die ander twee dieper die see in geswem het, ongeveer 80 m van die strand af. Een van hulle het in die moeilikheid geraak en sy bewussyn verloor. Sy vriend het hom probeer help, maar het later opgegee en na veiligheid geswem.
Die bewustelose man is uit die water getrek op 'n NSRI-reddingsboot. Paramedici het probeer om hom weer by te bring, maar kon nie daarin slaag nie. Die ander twee mans is in hegtenis geneem omdat hulle nie permitte gehad het nie. Hulle het sakke vol perlemoen in die water agtergelaat.
Twee ander mense is ook in die gebied in hegtenis geneem met perlemoen in hulle besit.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA