Peperduur vliegtuie vir Zuma-hulle
2011-11-07 07:01
Kaapstad - Vliegtuie “kos meer as karre” en as Suid-Afrika sy staatshoof veilig wil vervoer, moet die land bereid wees om groot geld uit te haal.
So het die departement van verdediging Sondag sy planne om sowat R1,6 miljard aan twee splinternuwe BBP-stralers vir pres. Jacob Zuma en adj.pres. Kgalema Motlanthe te bestee, verdedig. Daar is aangevoer huurvlugte is duur en hou ’n veiligheidsbedreiging in.
Weens die veroudering van sy bestaande BBP-vloot, moet die lugmag toenemend van huurvlugte gebruik maak om Zuma en Motlanthe na die buiteland te neem. Albei is die laaste ruk in die verleentheid gestel toe die huurvliegtuie tegniese probleme ondervind het en twee vlieëniers wat in 2004 by die mislukte staatsgreep in Ekwatoriaal-Guinee betrokke was, met Zuma na New York gevlieg het.
Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder van me. Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, het gesê ’n enkele oorsese huurvlug kan tot R15 miljoen beloop en dit is nie kostedoeltreffend om langer só aan te gaan nie.
Die grootste kommer is egter BBP’s se veiligheid. “Ons wil ons eie vliegtuie in ons eie agterplaas hê sodat ons weet wat met hulle gebeur.”
Die departement raam die koste van twee stralers wat lang oorsese vlugte kan onderneem op sowat R1,6 miljard.
Volgens Mabaya het die kabinet die aankope reeds in April goedgekeur. In antwoord op die vraag of daar vir die uitgawe begroot is, het hy gesê: “Die geld sal gevind word.
“Vliegtuie kos meer as karre. As jy die staatshoof veilig wil vervoer, moet jy bereid wees om (groot) geld te bestee.”
Intussen het David Maynier, DA-LP en die party se woordvoerder oor verdediging, die voorgenome aankope beskryf as “’n verregaande spandabelheid te midde van ’n situasie waar miljoene landsburgers nie huise of toegang tot behoorlike basiese dienste het nie”.
Hy gaan die parlement se gesamentlike staande komitee oor verdediging versoek om te eis dat Sisulu ’n breedvoerige voorlegging oor die aankope gee.
Hoewel die tenderspesifikasies vir die nuwe BBP-stralers nog nie bekend is nie, word aanvaar dit is soortgelyk aan die tender van R808 miljoen wat die departement in April aan AdoAir toegeken het vir die bruikleenkontrak vir twee BBP-stralers oor ’n tydperk van vyf jaar.
Die departement probeer dié kontrak ter syde stel en gaan intussen voort met die nuwe tender om eerder sy eie stralers aan te skaf. Die stralers sal minstens 17 passasiers moet kan akkommodeer. Die hoof-BBP aan boord sal sy eie private slaapkwartiere met ’n hangkas, stort en toilet hê.
’n Geraaslose werkstasie met ’n rekenaar, faks en satellietkommunikasie word vereis, asook twee konferensiekamers waarin minstens ses mense kan vergader.
Ander passasiers moet verkieslik ook slaapgeriewe hê, daar moet minstens nog twee toilette aan boord wees, asook twee oonde om maaltye te berei. Mabaya het gesê bogenoemde vereistes is nie buitengewoon nie.
“Die president moet in die lug kan aangaan met sy werk en as hy uitklim, moet hy vars wees.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger