Peperduur sjampanje vloei by ANC-gala-ete
2012-12-16 08:05
Bloemfontein – Bottels peperduur Moët-sjampanje het Saterdagaand in emmers voor die ingang gestaan van die saal waar die ANC se Progressive Business Forum-sakegala gehou is.
Pres. Jacob Zuma, sy drie vroue en die sakeman Patrice Motsepe het by die hooftafel gesit.
Renier Schoeman, medesameroeper van die Progressive Business Forum, het gesê die presidentstafel, waar 12 mense gesit het, kos minstens R500 000. 'n Gewone tafel kos sowat R250 000.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings, Lindiwe Sisulu, minister vir die staatsdiens en administrasie, voormalige regeringswoordvoerder, Jimmy Manyi, Enver Surty, adjunkminister van basiese onderwys, en Yunus Carrim, adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake het ook die geleentheid bygewoon.
Gaste is bederf met 'n driegangmaaltyd, wat afgeskop het met 'n salm en soetrissie terrien met kaasbrosbrood.
Die hoofgereg het bestaan uit 'n hoenderrol wat gevul is met feta- en cheddarkaas, hoender velouté met 'n uiesous, basmatirys, aartappels, pampoenroulade en geroosterde groente.
Die gaste het hul maaltyd afgesluit met 'n sjokolade-en-jogurt mousse.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA