Pelonomi-hoof: Hospitaalverkragting kon by Waterfront ook gebeur het
2010-11-03 09:07
Volksblad
’n Stelling deur ’n senior bestuurshoof van die Pelonomi-hospitaal dat die verkragting van ’n dokter hier aan diens net “sowel by die Waterfront” of “in haar bed” kon gebeur het, het vroulike dokters hier woedend.
Prof. Sampie Smit, waarnemende hoof van kliniese dienste by die Pelonomi-hospitaal, het dié opmerking wat hy vroeër Dinsdag op ’n bestuursvergadering gemaak het, aan Volksblad herhaal.
Smit het Maandag in ’n e-pos aan personeel voorgestel dat hulle in “pare” deur die hospitaal beweeg, “veral oor naweke, snags en in afgeleë gebiede van die hospitaal”.
“Dit kon net so maklik by die Waterfront gebeur het. Of in haar bed. Dit maak dit nie erger dat dit in ’n hospitaal gebeur het nie. Dit is tog logies,” het hy gesê toe hy om kommentaar genader is.
Smit het ook aan Volksblad gesê: “Dit het gebeur, ons het gedoen wat ons kon en nou moet ons die stukke optel. Wat gaan dit nou help om nie te kom werk nie?
“Enige beroep het sy risiko’s, dit kon enige plek gebeur het.”
Vroulike dokters was hewig ontsteld oor dié “onaanvaarbare” stelling. “Hy het dieselfde houding as jare gelede toe gesê is verkragtingslagoffers het daarvoor gesoek,” was ’n geneesheer se reaksie. Dokters het selfs gesê die professore en bestuurders wat nagelaat het om die jong dokter se veiligheid te verseker, behoort aanspreeklik gehou te word vir wat gebeur het.
Van die vroulike dokterskorps in die Pelonomi-hospitaal win reeds regsadvies in oor of hulle gedwing kan word om enigsins langer nagskof in sulke onveilige omstandighede te werk. Hulle het prof. André Venter, hoof van pediatrie, reeds in ’n e-pos hiervan verwittig.
Die feit dat daar sedert die voorval drie dae gelede geen voldoende stappe gedoen is om die sekuriteit te verbeter by die hospitaal nie, het hulle as ’n groep leerling-spesialiste eenparig laat besluit om van 2 November geen pediatriese dienste in Pelonomi te lewer nie, lui een boodskap aan Venter. Hulle het uitdruklik versoek dat al die pasiënte van 16:00 af na die Universitas-hospitaal verwys word vir behandeling. Hulle sal hier aan diens wees.
Dr. Lebogang Phahladira, president van die nasionale vereniging vir mediese konsultante, het sy steun aan dié besluit toegesê. Die dokters het ’n lang lys van ernstige probleme aan Venter deurgegee. Onder die probleme is wagte wat aan diens is en slaap en onbeheerde toegang van buite af. Daar is ook daagliks inbrake in hul motors.
Die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) in die Vrystaat het intussen sy lede aanbeveel om nie by Pelonomi te gaan werk nie omdat die veiligheid nog glad nie beter is nie. Lede wat wel gaan werk, moet vir hul eie veiligheid sorg.
Gerhard Koorts, VSA-hoofbestuurder, het gisteraand gesê hy is ook deur ’n se- nior medikus in die hospitaal in kennis gestel een van die nuwe sekuriteitswagte wat daar geplaas is, het die eerste aand al gesit en slaap. Die 25 “polisiereserviste” wat die departement glo per skof uitgeplaas het, beteken ook niks nie.
Hulle is nie opgelei as veiligheidswagte nie.
Buitendien is daar geen polisiereserviste om die terrein te sien nie.
Smit het by navraag oor die gebrek aan die reserviste geantwoord: “Dit is ’n groot hospitaal.
“En julle (Volksblad) kan nie orals wees om te sien waar hulle is nie.”
- Volksblad