Pelonomi: Vrouedokter kry vreemde man wat in bed slaap
2010-11-06 08:17
Bloemfontein. – Dokters by die Pelonomi-hospitaal is ontsteld oor nóg ’n voorval wat toon dat die veiligheid daar nog nie na wens is nie.
Dit is ondanks “ingrypende” maatreëls (soos die Vrystaatse departement van gesondheid dit genoem het) wat ná die wrede verkragting van ’n dokter verlede naweek ingestel is.
’n Vrouedokter wat besig is om as internis te spesialiseer, het Woensdag omstreeks 23:00 in haar slaapkwartier by die hospitaal ’n vreemde man aangetref wat op ’n bed gelê en slaap het.
Sy het haar in een van die vertrekke toegesluit en haar departementshoof, prof. Willie Mollentze, gebel, wat haar kom help het.
Die slapende was glo ’n besoeker wat die hospitaal nie ná besoektyd verlaat het nie.
Mollentze het glo eergister aan die departementshoof van gesondheid, dr. Sipho Kabane, gesê dié tweede voorval is die laaste strooi.
Kabane het hom en ander dokters toe glo gewaarsku dat hulle moet onthou wie is hul werkgewer.
Dr. Gwen Ramokgopa, nuwe adjunkminister van gesondheid, het Pelonomi gister besoek. Sy het verlede Saterdag se verkragting veroordeel en gesê dit is ’n “vernedering vir die samelewing”.
“Die nasionale departement van gesondheid sal saam met die nasionale vervolgingsgesag en die hele regstelsel werk om te verseker dat geregtigheid geskied.”
Dr. Deon Menge, ’n chirurg, het namens die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) gesê dokters wil nie meer in die Vrystaat kom werk nie en ná die voorval gaan nog minder dokters dit wil doen.
“Die SAMV gaan ’n siviele saak teen die Pelonomi-bestuur indien, asook teen die provinsiale departement van gesondheid.”
Menge het ook gesê dat hulle dokters van oor die land gaan aanry om Dinsdag, wanneer die drie vermeende verkragters weer verskyn, buite die Bloemfonteinse landdroshof te betoog.
Ramokgopa het belowe dat aan die dokters se griewe en eise aandag gegee sal word.
Sy het ook die 35-jarige slagoffer tuis besoek.
Volgens dr. Wollie Grobler, woordvoerder van die paartjie, is die dokter en haar man tevrede dat alle relevante sake aangehoor is.
Grobler het gesê die dokter is baie broos en kwesbaar.
“Sy is nog geskok en verslae, maar sy en haar man praat daaroor. Hy ondersteun haar baie. Hulle hanteer dit dag vir dag.”
- Beeld