Pelgrimsrus: Ondernemings ís betyds in kennis gestel
2012-07-05 23:00
Johannesburg – Die departement van openbare werke in Mpumalanga het Donderdag volgehou dat eienaars van ondernemings in Pelgrimsrus betyds in kennis gestel is van hulle huurkontrakte wat verval.
“Die departement het die tenders vir geboue in Oktober verlede jaar in ‘n advertensie geadverteer, die sluitingsdatum was November 2011. Die huurkontrakte van al die ondernemings wat op tender was, het verval,” het David Nkambule, ‘n woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
Konsultasievergaderings is in September verlede jaar en in Maart 2012 voor die tenderproses gehou, het Nkambule gesê.
“Die Pelgrimsrus-sakekamer, wat deur Marius Brummer verteenwoordig word, is ingelig dat die departement die verhuring van die geboue sal adverteer soos vasgestel deur die wet op openbare finansiële bestuur,” het hy gesê.
Hy sê ‘n begroting van meer as R4 miljoen is opsy gesit vir die daaglikse instandhouding van die dorp.
The Times het berig dat die provinsiale departement van openbare werke, paaie en vervoer Vrydag uitsettingsbevele aan die ondernemings uitgereik het en hulle 31 dae gegee het om te sluit.
Die historiese goudmyndorp se argitektuur is sedert die 1800's onveranderd gelaat en dit is in 1986 tot 'n nasionale monument verklaar.
Dit is deur die departement van openbare werke bedryf en die ondernemings se eienaars het die eiendomme gehuur, het die koerant berig.
Die dorp is afhanklik van toerisme en het werk verskaf aan inwoners van die dorp Schoonplaas.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA