Patoloog getuig oor doodskoot
2010-10-14 09:55
Kaapstad - ’n Bedryfsielkundige van Johannesburg wat in Mei 2009 vermoor is, het waarskynlik sy baadjie oor sy kop getrek voordat hy ’n doodskoot toegedien is.
Dr. Daphné Anthony, ’n senior patoloog, het Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof getuig dr. Klaas Jonkheid is in sy regterslaap geskiet.
Hy sou ná die skoot nog ’n paar minute gelewe het, maar sou onmiddellik sy bewussyn verloor het.
Jonkheid (47) se verbrande lyk is verlede jaar in ’n stortingsterrein in Faure ontdek. Twee broers, Elton (23) en Wayne Smith (22), is dae ná die moord in hegtenis geneem.
Hulle ontken skuld op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Volgens Anthony is die vuurwapen nie naby die oorledene se kop gehou nie. Anthony het ook bevind daar was verskeie brandwonde en skaafmerke aan die oorledene se liggaam.
Daar was ook skaafmerke aan sy regterwang, sowel as die regterkant van sy nek. “Die oorledene het waarskynlik gelewe toe hy die skaafmerke opgedoen het, aangesien die merke vars en rooi was.”
Anthony het getuig die oorledene se baadjie het ’n gat in gehad. Sy het tot die gevolgtrekking gekom dat dié kledingstuk waarskynlik oor Jonkheid se kop getrek was toe hy geskiet is.
Die beskuldigdes het Woensdag aangedui hulle betwis die geldigheid van verklarings wat hulle destyds aan die polisie gemaak het. ’n Verhoor binne dié verhoor sal vandag begin.
Intussen het die twee beskuldigdes vir ’n af-dag gevra. Strafsake word weinig op ’n Vrydag aangehoor aangesien die howe dan meesal appèlaansoeke aanhoor.
Die beskuldigdes het by monde van hul regsverteenwoordiger, adv. Nehemiah Ballem, gevra om môre te “rus”. Hulle is uitgeput ná die week en wou weet of die saak nie Maandag kan hervat nie.
Regter Ashley Binns-Ward het egter gesê die hof sál môre sit.
- Die Burger