Pastoriepaar in hof oor huwelike
2011-09-15 09:01
Bloemfontein - ’n Pastoriepaar en ’n gewese amptenaar van die departement van binnelandse sake het Woensdag op aanklagte van bedrog en korrupsie in die streekhof verskyn nadat hulle glo mense onwettig in die huwelik bevestig het.
Die verhoor van past. Andries Venter (46), leraar van die Pinkster-Protestantekerk (PPK) in Bloemfontein, sy vrou, Ronél (44), en Dumakatso Maholo (40) is deur streeklanddros Dawn Soomaroo tot 29 September uitgestel.
Past. Venter het op aanklagte van bedrog, korrupsie en die onwettige besit van ’n vuurwapen verskyn.
Sy vrou het op vier aanklagte van bedrog verskyn. Mohalo staan op aanklagte van bedrog tereg.
Hulle word ook van onwettige bendebedrywighede aangekla.
Luidens die klagstaat teen hulle het past. Venter die amptelike huwelikregister van die departement van binnelandse sake van Maholo bekom en dit gebruik om mense te trou.
Die drie het na bewering tussen Desember 2006 en April 2008 aan paartjies voorgegee dat past. Venter ’n huweliksbevestiger is.
Die pastoor het na bewering 11 paartjies sonder ’n lisensie in die eg verbind. Hy het die paartjies en hul getuies die register laat teken en glo ook voorgegee om dit self te teken.
Hy het na bewering die huweliksregister terug aan Maholo gegee wat dan die register as huweliksbevestiger onderteken het. Die staat beweer sy vrou, Ronel, het na bewering per geleentheid as getuie by van dié huwelike opgetree.
Luidens die klagstaat het dié kerkman ook in 2003 en 2007 altesaam R8 000 van onwettige immigrante aanvaar om hul vrylating uit aanhouding te verseker.
In ’n verwante verhoor het nog ’n gewese huweliksbeampte by die departement van binnelandse sake, Samuel Sedumo Makhubalo (44), op ’n aanklag van bedrog voor streeklanddros Soomaroo verskyn.
Sy hofverskyning spruit uit sy beweerde betrokkenheid by ’n huwelik wat in Maart 2008 voltrek is.
Hy het na bewering die huwelik-register aan past. Venter gegee om ’n huwelik buite die departement te bevestig. Past. Venter het na bewering ná die tyd die huwelikregister aan Makhubalo teruggegee, waarna hy dit onderteken het asof hy die huwelik behartig het. Venter en sy vrou het na bewering die register as getuies onderteken.
Adv. Casper Kempff kla in albei verhore aan. Frank Botha het namens die beskuldigdes opgetree.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad