Pastoriemoord: Seun vra vergifnis uit tronk
2012-11-17 09:50
Harrismith – “Vergewe my asseblief. Pa sou ook gesê het dit is wat julle moet doen.”
Dít was Martin Brits (28) se boodskap uit die tronk aan sy gesin wat sy pa, ds. Willem Brits (60), se roudiens Vrydag in die NG kerk Kerkenberg bygewoon het, berig Volksblad.
Martin het ’n brief aan ds. Bobby Scherrer gerig, wat die diens waargeneem het. Scherrer, emeritus predikant en jare lange vriend van die oorledene, het die brief in die stampvol kerk voorgelees.
Ds. Brits was ’n predikant van Kerkenberg.
Martin het sy pa beskryf as ’n liefdevolle mens wat homself altyd laaste gestel het. Volgens hom was sy pa ook streng.
“Ek wil graag sê dat ek jammer is vir wat ek gedoen het. My familie, moet nie dit wat hy julle geleer het, vergeet nie.
Hy was nog altyd reg,” lui die brief, wat Martin uit die Harrismith-tronk geskryf het. Hy word daar aangehou saam met sy medebeskuldigde, Elliot Mhlambi (41), weens die gru-aanval in die pastorie verlede Donderdag.
Gerhard Vermeulen (25), die verloofde van Martin se suster, Thea, is ook in die aanval dood. ’n Roudiens is Donderdag vir hom gehou.
Albei word veras.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter